Εμφάνιση αναρτήσεων με ετικέτα Ortodokse Christene in Afrika. Εμφάνιση όλων των αναρτήσεων
Εμφάνιση αναρτήσεων με ετικέτα Ortodokse Christene in Afrika. Εμφάνιση όλων των αναρτήσεων

Τετάρτη 17 Ιουλίου 2019

Nuwe Opname van die Goddelike Liturgie




‘n Nuwe opname van die Ortodokse Liturgie, getoonset met hoofsaaklik die bekende Psalmmelodieë van Goudimel, sal binnekort beskikbaar wees. Hieronder is die motivering vir hierdie opname soos wat dit voorlopig op die binneblad van die opname gaan verskyn:

Waarom hierdie toonsetting?

My inspirasie om die Ortodokse Liturgie te toonset met die Psalm-melodieë van veral Goudimel, asook ‘n melodie van die Heilige Notker, is te danke aan my kennismaking op YouTube met André Nieuwkoop in Nederland se zangavonden, waar skares mense, gewoonlik meer as ‘n duisend, byeenkom, om die Psalms te sing. Ek het hierdie melodieë ontroerend gevind en was getref deur die geestelike diepte daarvan. Ek het dit met ‘n half-Afrikaanse kollega in die VSA gedeel en na hy na heelwat van hierdie Psalms geluister het, was sy opmerking: “Profoundly prayerful genius!” Ek het toe begin kyk na die moontlikheid om van hierdie melodieë te gebruik vir die toonsetting van die Goddelike Liturgie van die Ortodokse Kerk in Afrikaans en was aangenaam verras om te vind dat dit nie net moontlik was nie, maar dat dié musiek ook die geestelike diepte van die Liturgie treffend beliggaam. Tot dusver was ons aangewese op meesal Russiese melodieë, maar nou het ons ‘n musiekskat tot ons beskikking wat gewortel is in en eie is aan die geskiedenis van die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes en wat ewe goed ook die draer van die Ortodoksie in Afrikaans kan wees. Met die gebruik van hierdie melodieë kry die Ortodoksie in Afrikaans myns insiens nou die moontlikheid van ‘n eie unieke stem.
Ek het met Leon Starker oor die moontlikheid gepraat om hierdie toonsetting met sy Oikos-sangers op te neem en hy was van meet af aan baie entoesiasties om dit te doen. Die doel van die opname is tweeledig: Om ‘n voorbeeld te hê vir Afrikaanse Ortodokse Christene van hoe die musiek gesing moet word, en om die skoonheid van die Liturgie met hierdie pragtige melodieë aan Afrikaanse mense in die algemeen bekend te stel, om so moontlik by te dra tot die geestelike en kulturele verryking van ons mense.
Graag wil ek ook my dank uitspreek teenoor ons Aartsbiskop Sergios, Metropoliet van die Aartsbisdom Goeie Hoop, wat sy toestemming en seën vir hierdie projek gegee het.
Mag hierdie opname vir vele van seën en tot stigting wees!

Vader Zacharias van Wyk, presbiter
Kapel van die Heilige Maria die Egiptenaar
“Keurkloof”
Robertson
Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop
Patriargaat Alexandrië

L.W.: DIE VOLLEDIGE TEKS VAN DIE GODDELIKE LITURGIE, MET DIE TOONSETTINGS, IS IN PDF-FORMAAT OP HIERDIE SKYF EN KAN OP ‘N REKENAAR AFGELAAI EN UITGEDRUK WORD.

Afrikaans Ortodoks

 

"Volgens die Ortodoksie is elke mens ‘n unieke en onherhaalbare persoonlikheid, ‘n beeld van God, ongeag kleur, taal, godsdiens en kulturele agtergrond"

 
Die Paasboodskap van die Patriarg van Alexandrië en die hele Afrika Theodore vir Paasfees 2019


Ikoon van die Opstanding, Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar, in Suid-Afrika (foto van hier af)

April 27, 2019

Ons glo “in een Here Jesus Christus ……  wat gely het en begrawe is opgestaan het”.

My liewe kinders,
Ons vier met gejubel en geestelike vreugde die lewegewende Pasga! “Pasga van behae, Pasga, die Pasga van die Heer. ‘n Pasga al-eerbiedwaardig het vir ons opgegaan. Pasga! Laat ons mekaar met blydskap omhels. O Pasga, losprys van verdriet!”

Ons ontken egter nie die verskriklike werklikheid van ons alledaagse lewe nie; die pyn, die ongeregtigheid, die siekte. Pasga is ‘n unieke, dinamiese gebeurtenis. Verdriet en rou word verdryf deur die glans van die goddelike Lig en oorwinning van die lewegewende Opstanding.

Ons weet dat baie van ons broers en susters in hierdie tyd finansieel versmoor word en dat ander op die rand van armoede verkeer.


Onveiligheid en allerhande ander struikelblokke, met die katastrofiese gevolge daarvan op die lewenstandaarde  van ons mense, is ‘n aangeleentheid vir die hele samelewing, waar die slagoffer nie langs die pad lê en die aanskouers van hierdie drama aan die ander kant van die pad verbygaan nie, maar waar ons almal as mede-reisigers die gevolge dra van dit wat ‘n uitwerking op almal gemeenskaplik het. In die heel eerste plek roep hierdie verskynsels, deur die bewuswording van tekortkominge om op liefdevolle en samewerkende wyse daarmee tred te hou, en die gebrek daaraan, almal tot self-ondersoek op. Om ons woed oorloë en kom rampe voor. Gebiede naby ons word oorweldig deur vlugtelinge en immigrante, wat die skaakmat van politieke en finansiële dienstigheid van die wêreldmagte ervaar.

Te midde van die donkerte wat deur menslike lyding veroorsaak word, straal die ewige lig van die Opstanding van die Heiland met heerlikheid. Volgens die Ortodoksie is elke mens ‘n unieke en onherhaalbare persoonlikheid, ‘n beeld van God, ongeag kleur, taal, godsdiens en kulturele agtergrond. Dit vra om opregte hulpverlening aan die mens, en sekerlik aan die behoeftiges, met volle verwysing na die verlossende gebooie van die Skepper. Die Kerk is die Liggaam van Christus. Binne haar, “as een lid ly, ly al die lede saam” en omdat God liefde is, “bly hy wat in liefde bly in God en God in hom.”

 
Geloof in die Here “wat gely het en begrawe is en opgestaan het”, en die eksistensiële  verhouding met Hom, keer geduld en uithouvermoë , geestelike krag en innerlike vrede vir die siel af. Terselfdertyd moedig hierdie geloof ons aan om op liefdevolle wyse naas diegene wat ly te bly. Agting en versorging vir hulle wat gekwel word, gee op die mees wesenlike wyse uitdrukking aan ons aanbidding van Christus wat “vir ons verlossing” opgewek is. Ons begrip van die smarte van ons naaste en sorg vir hul verligting, bewys ons geloof in die Opstanding en ons praktiese liefde soveel meer.

My kinders “CHRISTUS HET OPGESTAAN! “Dit is ‘n dag van liefde. Die hel is oorwin (…..) Elke gesig straal, volgens die Griekse digter Dionisios Solomos, vanweë die heilige kers wat Christene in hul hande hou”. Mag die Verrese Heer, die Leier van die Lewe, ons hoop, liefde, krag en vreugde skenk in die ewige lig van sy Opstanding. Terwyl ek julle almal die seën van die Verrese Christus, die Oorwinnaar oor die dood, skenk, groet ek elkeen van julle persoonlik met die Opstandings-segelied: CHRISTUS HET OPGESTAAN! WAARLIK, HY HET OPGESTAAN!  terwyl ek julle almal “van die Here” alles wat goed en aangenaam is toewens “vir alles wat ons vir Hom doen”.

            Met die seëninge van die Opstanding,

(Geteken deur) +Theodoros ll
Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika

Τρίτη 26 Δεκεμβρίου 2017

Kersboodskap van ons Patriarg 2017


 
THEODOROS II
DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË
EN DIE HELE AFRIKA;
AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:
GENADE EN BARMHARTIGHEID EN VREDE VAN ONS HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS WAT IN BETHLEHEM GEBORE IS

 
“Vandag word Christus in die stad Bethlehem gebore, die hemele is bly en die hele skepping verheug hom!”

My liewe broers en susters, my kinders,
Vandag is dit die Fees van die Geboorte van Christus! Die hemelse en engele-gesange word weer gehoor. “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde en in die mense ‘n welbehae.” Kerkklokke weerklink weereens oor die ganse planeet en kondig aan:
” ‘n Redder is vandag vir ons gebore.”
Ons vier almal, elkeen op sy eie manier, God se groot selfvernedering vir die verlossing van die mensdom. Sy liefde sal ons weereens in die praktyk leer wat die boodskappe daarvan is. ‘n God van liefde en ‘n God van nederigheid.
“Hy wat niks kan omvat nie” word vlees, om krag en moed te gee aan die swak en teleurgestelde mensdom. Die ewige Here word gebore om die wêreld uit sy doodloopstraat te neem. ‘n Wêreld wat tot dusver skynbaar nóg die Engele-lied  nóg die boodskap van “vrede vanuit die hemele” gehoor het. Ons word daagliks met oorloë, wêreldwye en burgerlike konflik,  burgeroorlog, terrorisme, vlugtelinge, ontworteling gekonfronteer.


God reageer op ons: Hy word in nederigheid gebore, in die krip van ‘n dier. Hy word warm gehou deur die asem van die diere. Hy word in ‘n grot gebore. Dit is waarom niemand Hom herken het nie, niemand Hom verstaan het nie, want niemand wie se oë “na die aarde” gewend was, kon Hom vind nie. Net die herders “wat in die oop veld gebly het”,(Lk. 2:8) onskuldige en nederige siele, het besoek ontvang van die engele en is waardig geag om die eerste te wees om Hóm in ‘n krip te sien lê “wat alle dinge dra” (Hebr. 1:3)
Almal was Hom te wagte! Eeuelank het die Hemel Sy koms beplan. Eeuelank het die bandelose, sondige en patetiese mensegeslag geworstel tussen twyfel en onkunde, hulpeloosheid en ‘n doodloopstraat.
Duisende jare gelede het die Profete vooruitgesien en dit geprofeteer wat ons vandag vier. Filosowe en digters van treurspele het sy koms verkondig.
En die Hemel het geantwoord! En die Seun en Woord van God het gekom, “gebore onder die wet, om die wat onder die wet was los te koop”. (Gal. 4:4-5) Emmanuel is gebore, sodat die mensdom met sy eie oë kon sien Wie God is, Hom aanraak, Hom bespot, Hom ontken, Hom verraai, Hom doodmaak en Hóm aanbid wat op die derde dag opgestaan het.

 
Foto van hier af: 
Die boodskap van die Fees van die Geboorte word aan ons almal gerig, my broers en susters. Nie net vandag nie, maar elke minuut, elke oomblik van ons lewens. Ons moet dit as ‘n reël van geloof ervaar, ‘n beskutte hawe in al die skipbreuke van ons lewens. Die mensdom het dit soos nog nooit tevore nodig nie om mense-harte oop te hou en hulle warm en rein te hou, sodat Jesus daarin gebore mag word. Ons hoef nie na Hom te soek in paleise en weelderige sale nie. ‘n Nederige pondok, soos die wat oral in Afrika te vinde is, is genoeg. Hy soek naarstiglik na warmte en vertroosting. God klop vanaand aan die deur van jou hart. Gaan jy Hom laat wag?
My broers en susters, my geseënde kinders, laat ons ons noëties verplaas na die dele van die Midde-Ooste vol beroeringe, na die buitewyke van Judea, om te kyk na waar, maar veral waarom, Jesus gebore is. Laat ons die grot binnegaan, voor Hom kniel en vir Hom sê: “Christus, die mensdom het nie die deugde van vrede geniet soos wat dit wou nie. Dit lewe in oorloë, wat alle vreugde en vrede dood. Dit lewe in nood en die vrees van ‘n onsekere toekoms. Die wêreld laat ‘n mens dink aan ‘n yslike slagveld, waar elkeen teen sy broers gekant is. Ten spyte van al die samesprekings en vredesbewegings, het dit vir twintig of meer eeue ‘n ‘ontwykende duif’ gebly, ‘n onsekere droom.”
Laat ons dit te bowe kom! Laat ons die hartstogte  tersyde stel wat ons aanhits tot dade van geweld! Laat ons arms van liefde uitstrek en elke mens omhels. Dan sal ons die Geboorte voortdurend ervaar.

Nog baie geseënde jare!
THEODOROS ll
Pous en Patriarg van Alexandrië en die Hele Afrika
In die Groot Stad Alexandrië
Die Fees van die Geboorte van Christus 2017

Kersfees 2017, en die Heilige Doop in Sint-Nikolaas van Japan ortodokse gemeente in Johannesburg (meer hier)
Sien ook

IN ENGLISH HERE
Orthodox Christmas 2017 in Africa!
"Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid!"

Nog 'n foto van die doop
 


The Orthodox Holy Week & Holy Easter (Pascha)

Khanya e isoe ho Molimo holimo

Τρίτη 13 Ιουνίου 2017

Die Ortodoksie in Afrikaans : Die Bybel in die Ortodokse Kerk ― Christus onder julle


Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar


Welkom by die tuisblad van die eerste Ortodokse Gemeenskap in Suid-Afrika wat tot stand gekom het met die spesifieke doel om ‘n geestelike en kulturele tuiste te help skep vir veral Afrikaanssprekendes wat belangstel in die Ortodoks-Christelike geloof. Die Ortodokse Kerk het ‘n historiese kontinuïteit wat direk na die vroegste Christelike gemeentes terugstrek en ‘n leer wat getrou aan die Skrif, die Apostels, die Kerkvaders en die sewe Ekumeniese Konsilies van die historiese Kerk gebly het. Ons is ‘n gemeente van die Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop en ons biskop is Aartsbiskop Sergios van Kaapstad. Die Aartsbisdom Goeie Hoop is deel van die Ortodokse Patriargaat Alexandrië en die hele Afrika. Ons priester is Vr. Zacharias van Wyk. Ons vier tans op gereelde grondslag die Vesperdiens (die amptelike Aandgebed van die Kerk) en die Liturgie (die Nagmaaldiens) in ons kapel op Robertson, wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar, een van die merkwaardigste vroue van die vroeë Kerk. Iedereen is welkom om in Afrikaans saam met ons te kom aanbid. Padaanduidings vir besoekers verskyn onder die “Kontak”-hofie. Die woord “ortodoks” beteken, terloops, “juiste aanbidding”. Mag u deur hierdie bladsye iets van die onbeperkte skat van die vroeë Kerk ontdek, die Kerk wat, hoewel dit al twee duisend jaar oud is, nog altyd die wonderskone bruid van Christus gebly het en wat nooit oud of oudmodies raak nie. Wat ‘n voorreg dat ons nou ook in Afrikaans deel kan hê aan hierdie Kerk van Christus wat wortel in die leer van Christus soos wat ons dit oor die eeue heen van die Apostels ontvang het.


Foto van hier (Pointe-Noire)

Leesstof

Die Bybel in die Ortodokse Kerk deur vr.Diaken Stephen Hayes. Die Afrikaanse vertaling deur Vr. Zacharias.

Christus onder julle  ‘n Uitstekende inleiding tot die Ortodokse geloofsleer vir Westerlinge deur vr. Sergius Heitz, in Afrikaans vertaal.

Opsomming van ‘n praatjie deur Metropoliet Kallistos oor verlossing

As ons ons sondes bely ‘n Uistekende boekie ter voorbereiding van die Misterie van die belydenis van sondes deur Vr. Thomas Hopko.

Maria in die Ortodoksie 2008 deur metropoliet Kallistos Ware.

Die Ortodoksie deur vr. John Meyendorf.

Maria die Egiptenaar Die verhaal van hierdie groot Egiptiese Heilige soos aangeteken deur Patriarg Sofronius van Jerusalem.

Παρασκευή 21 Απριλίου 2017

PAASBOODSKAP VAN DIE PATRIARG


Christus het opgestaan uit die dode, deur sy dood het Hy die dood vertrap en aan hulle in die grafte die lewe geskenk. 

Prot. Nr. 20/2017
THEODOROS II
DEUR DIE GENADE VAN GOD POUS EN PATRIARG VAN ALEXANDRIË
EN DIE HELE AFRIKA;
AAN DIE VOLHEID VAN ONS APOSTOLIESE EN PATRIARGALE TROON:
GENADE EN BARMHARTIGHEID VAN ONS VERRESE HERE EN GOD EN HEILAND JESUS CHRISTUS

“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleindig van die wêreld.” (Mt. 28:20)
 

My liewe broers en susters,
Met hierdie woorde, met hierdie belofte vol hoop, het die Seun van God sy verlossingswerk op aarde voltooi. Hy wat die hemele verlaat het en na die aarde gekom het om ons verlossing te bied. Hy wat vir ons arm geword het. Hy wat die Kruis bestyg het en vir ons gely het. Hy wat vir ons begrawe is. Hy wat vir ons weer opgestaan het, en die dood wat Hy verduur het, het vir ons die aankondiger van onsterflikheid geword.
Hierdie uiteinde was egter nie net verbaal nie, ook was dit nie bloot histories nie. Hierdie uiteinde was, in teendeel, dinamies en tydloos. Die Kerk het die werktuig vir hierdie tydlose dinamiek van Sy opstanding geword. Nie as ‘n gevestigde godsdiens nie, maar as die Liggam van Christus, ‘n oop gemeenskap van sondige mense wat verlossing wil verkry; mense wat die oproep van Christus aanvaar: “Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. (Mt. 11:28)
  
Die Kerk het uiteindelik die lewende bewys geword van hoe lief die Verrese Here ons het. Want ‘n mens kan twyfel hê oor enigiets, maar nie oor die liefde van God nie. Maar wat is dit wat ons van die Huis van die Vader weghou? Wat is dit wat ons nie toelaat om terug te keer na die Vader wat ons liefhet en op ons wag? Is dit miskien ons uitermate vertroue op ons eie krag? Of is dit miskien die indruk dat ons foute so groot is dat dit die liefde van God oorskry?
Wat die antwoord ookal is, openbaar die afstand wat ons van God skei, ‘n gebrek aan geloof. Dit is as gevolg van die feit dat hoop en liefde ons in gemeenskap met God bring, eers wanneer dit gegrond is op ware geloof. Hoop en liefde verlig die pad van terugkeer na God, eers wanneer ons gereed is om, soos Petrus, te bely: U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt. 16:16) Eers wanneer geloof nie bloot ‘n bron van ‘n gespogery is nie, maar wanneer dit die onuitputlike bron van die goeie toepassing daarvan is.
Deesdae het ons, ongelukkig, miskien die hoogtes van kennis bereik, maar het ons in die geloof ongeletterd geraak. Ons het miskeien tegnologies uitgeblink, maar dit het daarop uitgloop dat ons  teologies onkundig geword het. Ons het die geopenbaarde woord van God verwerp en het in nuwe evangelies begin glo, op die gebied van die wetenskap, die filosofie of die politiek. Ons het God ontken en begin glo dat ons Hom nie nodig het ten einde ons bestaan te omskryf nie. Ons het die ware geloof vergeet en het ons oorgegee aan die kettery van ons tyd: die verheerliking van ons ego, van mag en rykdom.
En nou dat ons helaas vind dat ons wêreld oorheers word deur die redeloosheid van die sterkste onder ons medemens, soek ons ‘n manier om die weg na verlossing te vind. En nou dat ons in God se liefde ongeletterd geraak het, probeer ons die krag vind om te sê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan” (Lk. 15:18). Ons persoonlike opstanding is egter onmoontlik sonder die hervuwing van ons geloof. Ons evangeliese ongeletterdheid kan net genees word deur die woord van God deur persoonlike ervaring te leer ken.

Malawi, Easter 2017 (here)
My liewe broers en suster.
21 eeue na die Opstanding van die God-Mens en die verspreiding van die Gevangelie aan die volke, het die mensdom weereens hopeloos verwyderd van God se wil geraak. Die enigste veilige kompas vir ‘n terugkeer na ons vaderlike tuiste, is om weer tot geloof ge-evangeliseer te word. Na geloof, nie net as ‘n blote saak van die denke nie, maar wesenlik as ‘n ervaring van die hart. Na geloof, nie as die belydenis van ‘n idee nie, maar as die belydenis van die persoon van Christus, wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is, na geloof as sending, as ‘n plig om Christus se Evangelie te bring na die uiteindes van die aarde.
Dit is wat ons in Afrika doen, want, soos Johannes Chrysostomos dit gestel het, is daar niks meer ongevoelig as ‘n Christen wat nie omgee vir die verlossing van ander nie ((pg 60, 162). Hierdie sending is moontlik reusagtig en die arbeiders miskien min, maar ons harte klop warm by die belofte van hoop van die Here dat “die poorte van die doderyk dit (die Kerk) nie (sal) oorweldig nie. (Mt. 16:18) Hierdie belofte van hoop van die Here is wat ons sendingwerk omvorm tot ‘n sending van liefde wat die dood te bowe gaan. Net soos wat ons Heer die dood met sy Opstanding oorwin het.
Christus het opgestaan!

(Geteken deur) +Theodoros ll
Pous en Patriarg van Alexandrë en die Hele Afrika

Sien ook 
 
In English: PASCHAL ENCYCLICAL 2017 OF THE POPE AND PATRIARCH OF ALEXANDRIA AND ALL AFRICA THEODOROS II

 


The Orthodox Holy Week & Holy Easter (Pascha)

Σάββατο 8 Απριλίου 2017

Palmsondag - Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here

 
 
Vandag begin die mees gewyde week van die kerklike jaar. Gister het ons die opwekking van Lasarus uit die dode gevier wat Christus se gesag oor die dood toon. Vandag gedenk ons sy seëvierende intog in Jerusalem, waar Hy Homself toon as Koning en Heerser oor alles. Deur Jerusalem binne te gaan op ‘n esel, kom Jesus Christus na ons op ‘n heel nuwe wyse, en stel Hy ‘n reeks gebeurtenisse in werking wat sy Koninkryk ‘n aanvang sal laat neem.
Met dié seëvierende intog in Jerusalem, sien ons Hom geopenbaar nie net as leraar nie, maar as die Koning wat deur sy onderdane verwelkom word. Hy kom egter nie as sommer enige koning nie, maar Hy kom na elkeen van ons persoonlik. Net soos die kinders hom in Jerusalem verwelkom het, word ook ons voor die keuse gestel om Hom in ons harte te verwelkom, om teenoor Hom te reageer met liefde en gehoorsaamheid, en om Hom toe te laat om ons begeertes te herskep volgens sy wil.
Daarbenewens kom ons Koning na ons in deemoed en nederigheid, sittend op ‘n esel. Anders as ‘n aardse koning, kom Hy om ‘n Koninkryk te verkondig wat “nie van hierdie wêreld is nie”, maar wat steeds ‘n uitwerking op die wêreld sal hê. Hy kom om ons die mag van nederigheid en die krag van die liefde te leer, ‘n leerstelling wat volledig tot uitdrukking kom in sy dood aan die Kruis, ‘n dood wat uiteindelik die opperste oorwinning is oor die dood self.
Palmsondag, Burundi (van hier)

Hy wat sit op die troon van die gerubim, sit ter wille van ons op ‘n vul; en met sy koms na sy vrywillige Lyding, hoor Hy vandag hoe die kinders uitroep: “Hosanna!” terwyl die skare antwoord: “O Seun van Dawid, haas U om hulle te red wat U geskep het, geseënde Jesus, daar U vir hierdie doel gekom het, dat ons u heerlikheid mag ken.” 

Uit die Mette vir Palmsondag.

Uittreksel uit Evangelion. ‘n  Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 24 April 2016
 
Sien ook
 
‘n Dienaar en slaaf vir almal
Geestelike skatte van die Groot Vastyd in die Ortodokse Kerk 

‘n Dienaar en slaaf vir almal


Heilige Maria die Egiptenaar en Theotokos (Moeder van God, die Maagd Maria)


‘n Dienaar en slaaf vir almal
Markus 10:32-45


Vandag, op die Sondag van die Heilige Maria die Egiptenaar, hoor ons Jesus profeteer oor sy Lyding terwyl Hy saam met sy Apostels op pad Jerusalem toe is. Die Heilige Markus beskryf hoe Jacobus en Johannes Hom vra om ereplekke in sy Koninkryk. In antwoord hierop stel Jesus dit vir hulle duidelik dat terwyl die heidene dit normaal ag vir leiers om baas te speel oor ander, dit nie is hoe dinge in sy Koninkryk werk nie. Inteendeel: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskeng wees.”
In hierdie insident sien ons hoe die Evangelie wat Jesus predik die waardes van ons wêreld heeltemal omkeer. Ons volg Christus nie om magtig of ryk te word nie, maar om soos Hy te word. En Hy het “nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” In Jesus Christus sien ons iemand wat Homself ledig vir die verlossing van die wêreld.
Dit is vir ons maklik om krities te wees oor die taamlik klaarblyklike ambisie van die Apostels, wat nog nie geleer het wat dit beteken om Christus te volg nie. Tog het ons almal neigings tot eie-belang waarvan ons nie bewus mag wees nie, en daar is baie subtiele maniere waarop  ons godsdiens kan gebruik om ons eie ego’s te stut terwyl ons verwag dat ons vroomheid op die een of ander manier op erkenning sal uitloop. Op ons vastydweg bid ons dat God ons verlangens sal suiwer, ons ware nederigheid sal leer en ons al hoe meer sal vorm volgens die Beeld van sy Seun, wat ons leer wat ware grootheid beteken.

Voor Hy Homself verneder het, het net die engele Hom geken. Na Hy Homself verneder het, het die hele menslike geslag Hom geken. ‘n Mens sien hoe sy Selfvernedering nie meegebring het dat Hy minder het nie, maar dat dit tallose voordele, tallose dade van deugsaamheid, meegebring het, en sy heerlikheid met groter helderheid laat straal het. God wil niks hê nie en het niks nodig nie. Tog het Hy, toe Hy Homself verneder het, soveel goedheid voortgebring, sy huishouding uitgebrei, en sy Koninkryk vergroot. Waarom is jy dan bang dat jy minder sal word as jy jouself verneder? 
Die Heilige Johannes Chrysostomos

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 2 April 2017.
  
Markus 9:17-31

Vandag, op die Sondag van die Heilige Johannes Klimakus, hoor ons die verhaal van die genesing van die seun wat ‘n stomme gees gehad het. Sy vader, desperaat dat hy homself gaan vernietig, het hom na Jesus se dissipels gebring, maar hulle kon die gees nie uit hom dryf nie. Jesus Christus verklaar egter dat enigiets moontlik is vir diegene wat glo, waarop sy vader uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.”
Hierdie voorval herinner ons daaraan dat die redding wat Jesus Christus ons bied, te make het met ons genesing. En hierdie genesing kan meer beteken as wat ons soms verwag. Ons is miskien nie besete met geeste wat ons in die vuur probeer gooi nie, maar ons is almal deur ‘n gees van stomheid geraak. Ons menslike kommunikasie is deur die die sondeval aangetas, ons het die vermoë verloor om te praat soos wat ons moet, en menslike spraak het al te dikwels ontaard in woede en aggressie. En tog, as ons eerlik is met onsself, weet ons dat dit nie is hoe dit behoort te wees nie en dat ons daarna verlang om genees te word.
Ons het reeds gesien dat ons geloof moet hê – selfs geloof te midde van twyfel – ten einde genees te word. Maar Christus sê ook vir ons dat hierdie soort gees “deur niks anders (kan) uitgaan as gebed.” Dit is in en deur gebed dat ons die krag van God in ons lewens ontdek. Dit is deur die volgehoue beoefening van gebed dat ons geleidelik leer om te glo. Dit is deur gebed dat ons genees kan word van ons verwronge kommunikasiepatrone, want daar is ‘n regstreekse verband tussen ons verhouding met God en ons verhoudings met diegene om ons. Ware gebed lei ons na ‘n plek waar God ons kan genees. Dit stel ons in staat om die verskillende mededingende geluide wat die wêreld en ons eie wanaangepaste toestand ons kant toe gooi, eenkant te laat sodat ons deur die genesende krag van God aangeraak kan word.
 
Dit is nie nodig om lang gesprekke te voer nie; dit is genoeg om jou hande uit te steek en te sê: “Here, soos U wil, en soos U weet; wees barmhartig” En as die stryd in felheid toeneem, sê dan: “Here, help!” God weet baie goed wat ons nodig het en hy betoon ons sy barmhartigheid.”

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 26 Maart 2017

Sien ook