Heilige Maria die Egiptenaar en Theotokos (Moeder van God, die Maagd Maria)
‘n Dienaar en slaaf vir almal
Markus 10:32-45
Vandag, op die Sondag van die Heilige Maria die Egiptenaar, hoor ons Jesus profeteer oor sy Lyding terwyl Hy saam
met sy Apostels op pad Jerusalem toe is. Die Heilige Markus beskryf hoe
Jacobus en Johannes Hom vra om ereplekke in sy Koninkryk. In antwoord
hierop stel Jesus dit vir hulle duidelik dat terwyl die heidene dit
normaal ag vir leiers om baas te speel oor ander, dit nie is hoe dinge
in sy Koninkryk werk nie. Inteendeel: “Elkeen wat onder julle groot wil
word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil
word, moet almal se dienskeng wees.”
In hierdie insident sien ons hoe die
Evangelie wat Jesus predik die waardes van ons wêreld heeltemal omkeer.
Ons volg Christus nie om magtig of ryk te word nie, maar om soos Hy te
word. En Hy het “nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy
lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” In Jesus Christus sien ons iemand
wat Homself ledig vir die verlossing van die wêreld.
Dit is vir ons maklik om krities te wees oor
die taamlik klaarblyklike ambisie van die Apostels, wat nog nie geleer
het wat dit beteken om Christus te volg nie. Tog het ons almal neigings
tot eie-belang waarvan ons nie bewus mag wees nie, en daar is baie
subtiele maniere waarop ons godsdiens kan gebruik om ons eie ego’s te
stut terwyl ons verwag dat ons vroomheid op die een of ander manier op
erkenning sal uitloop. Op ons vastydweg bid ons dat God ons
verlangens sal suiwer, ons ware nederigheid sal leer en ons al hoe meer
sal vorm volgens die Beeld van sy Seun, wat ons leer wat ware grootheid
beteken.
Voor Hy Homself verneder het, het net
die engele Hom geken. Na Hy Homself verneder het, het die hele menslike
geslag Hom geken. ‘n Mens sien hoe sy Selfvernedering nie meegebring het
dat Hy minder het nie, maar dat dit tallose voordele, tallose dade van
deugsaamheid, meegebring het, en sy heerlikheid met groter helderheid
laat straal het. God wil niks hê nie en het niks nodig nie. Tog het Hy,
toe Hy Homself verneder het, soveel goedheid voortgebring, sy
huishouding uitgebrei, en sy Koninkryk vergroot. Waarom is jy dan bang
dat jy minder sal word as jy jouself verneder?
Die Heilige Johannes Chrysostomos
Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 2 April 2017.
Markus 9:17-31
Vandag, op die Sondag van die Heilige
Johannes Klimakus, hoor ons die verhaal van die genesing van die seun
wat ‘n stomme gees gehad het. Sy vader, desperaat dat hy homself gaan
vernietig, het hom na Jesus se dissipels gebring, maar hulle kon die
gees nie uit hom dryf nie. Jesus Christus verklaar egter dat enigiets
moontlik is vir diegene wat glo, waarop sy vader uitroep: “Ek glo, Here,
kom my ongeloof te hulp.”
Hierdie voorval herinner ons daaraan dat die
redding wat Jesus Christus ons bied, te make het met ons genesing. En
hierdie genesing kan meer beteken as wat ons soms verwag. Ons is miskien
nie besete met geeste wat ons in die vuur probeer gooi nie, maar ons is
almal deur ‘n gees van stomheid geraak. Ons menslike kommunikasie is
deur die die sondeval aangetas, ons het die vermoë verloor om te praat
soos wat ons moet, en menslike spraak het al te dikwels ontaard in woede
en aggressie. En tog, as ons eerlik is met onsself, weet ons dat dit
nie is hoe dit behoort te wees nie en dat ons daarna verlang om genees
te word.
Ons het reeds gesien dat ons geloof moet hê –
selfs geloof te midde van twyfel – ten einde genees te word. Maar
Christus sê ook vir ons dat hierdie soort gees “deur niks anders (kan)
uitgaan as gebed.” Dit is in en deur gebed dat ons die krag van God in
ons lewens ontdek. Dit is deur die volgehoue beoefening van gebed dat
ons geleidelik leer om te glo. Dit is deur gebed dat ons genees kan word
van ons verwronge kommunikasiepatrone, want daar is ‘n regstreekse
verband tussen ons verhouding met God en ons verhoudings met diegene om
ons. Ware gebed lei ons na ‘n plek waar God ons kan genees. Dit stel ons
in staat om die verskillende mededingende geluide wat die wêreld en ons
eie wanaangepaste toestand ons kant toe gooi, eenkant te laat sodat ons
deur die genesende krag van God aangeraak kan word.
Dit is nie nodig om lang gesprekke te
voer nie; dit is genoeg om jou hande uit te steek en te sê: “Here, soos U
wil, en soos U weet; wees barmhartig” En as die stryd in felheid
toeneem, sê dan: “Here, help!” God weet baie goed wat ons nodig het en
hy betoon ons sy barmhartigheid.”
Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 26 Maart 2017
Sien ook
Oosters-Ortodokse Kerk
Ortodokse geestelike erfenis
Ortodokse Christene in Afrika
The Orthodox Church in the Republic of South Africa
Afrikaners en die transendente: Waarom ek die Ortodoksie gekies het
Ortodokse geestelike erfenis
Ortodokse Christene in Afrika
The Orthodox Church in the Republic of South Africa
Afrikaners en die transendente: Waarom ek die Ortodoksie gekies het
Orthodox South Africa (tag)
Δεν υπάρχουν σχόλια:
Δημοσίευση σχολίου