Foto van hier af
Onderhoud met Vr Zacharias deur Johann Rossouw van die destydse Vrye Afrikaan
Vader Zacharias van Wyk*
Uit die Vrye Afrikaan
26 April 2006
*Priester van die Afrikaanse Ortodokse Gemeenskap van die Heilige Johannesdie Doper, Robertson
Die Vrye Afrikaan: U is die eerste Afrikaner wat u as Ortodokse priester laat wy het. Hoe het dit gekom?
My ontdekking van die Ortodoksie is ’n verhaal met ’n lang aanloop. Dit was deel van ’n pad wat begin het met my ervarings van opstandigheid in my
kinderjare teen die NG Kerk, geloop het deur ’n bekering tydens my laat tienerjare tot die Rooms-Katolisisme (in die jare van die Tweede Vatikaanse
Konsilie, waartydens die Rooms-Katolieke Kerk enorme veranderinge ondergaan
het), jare van toeskouer wees van die godsdienstige wêreld en – tydens die
politieke krisis en omwentelinge van dielaat 1980’s (soos ek dit beleef het) –
my ontdekking van die Boeddhisme en meditasie, wat, eienaardig genoeg, tot my
herontdekking van die Christendom en die Persoon van Jesus gelei het. My ontdekking
van die Ortodoksie het gekom aan die einde van ’n lang soektog in die Christelike
wêreld en was vir my ’n openbaring: vir die eerste keer in my lewe het die
Christendom soveel sin gemaak, en op so ’n manier dat ek nie allerande
innerlike kompromieë hoef te gemaak het nie.
DVA: Wat is die kern van die Ortodoksie?
VZ:
In afwagting op die begin van die viering van Pasga, die Opstandingsfees,
die fees der feeste in die Ortodoksie, is die kerk ’n hele tyd lank in totale
duisternis gehul terwyl die gemeente in stilte wag op die aanbreek van die feesom
middernag. Om middernag steek die priester sy kers aan en gee hy die lig aan
hulle rondom hom, en die feesgangers gee dan weer die lig aan dié om hulle,
totdat die kerk net ’n massa lig is. Terwyl dit gebeur, word gesing:
"Kom en ontvang die lig van die Aandlose Lig, en verheerlik Christus,
wat opgestaan het uit die dood." Dit, vir my, is die kern van die
Ortodoksie: dat God mens geword het om ons uit die duisternis na die Lig te bring en
ons vry te maak van die dood.
Die Ortodoksie is dus die fundamentele Christelike geloof soos wat dit van
die eerste Pinkster af deur die Apostels aan ons oorgedra is, naamlik dat God
as die Persoon Jesus mens geword het om die mensdom van die bande van die sonde
en die dood te bevry. Soos die Vaders dit so graag gestel het: God het mens
geword, sodat die mens weer god kon word. Want dit is die roeping van elke mens,
om soos God te word, sodat elkeen op sy eie unieke manier nie net God se
heerlikheid weerspieël nie, maar ook daarin deel.
Die Ortodoksie is dan ook fundamenteel ’n manier van lewe; dit is beslis
nie iets wat jy net op Sondae kan beoefen nie.
’n Uiters belangrike kwessie is dat die Ortodoksie nie met ’n
natuurwetenskaplike bril na die geloof kyk nie. ’n Ortodokse Christen kyk
vanuit diegeloof na diegeloof. Natuurwetenskap en geloof is twee verskillende
goed. Die Cartesiaanse manier van wetenskapbeoefening maak in die Ortodoksie
nie veel sin nie. Die Fenomenologie en die Ortodoksie leef egter baie maklik langs
mekaar. Vir ’n Ortodokse Christen is daar geenspanning tussen geloof en
wetenskap nie.
DVA: Waarom is dit vir u belangrik om juis ’n Afrikaanse Ortodokse
Gemeenskap te vestig?
VZ:
Al wat die meeste Afrikaanstaliges ken, is die Calvinisme en die myns
insiens oppervlakkige charismatiese Christendom. Van die tradisionele Christendom
weet Afrikaanstaliges oor die algemeen maar min. En wat my betref, is die
Ortodoksie die pêrel van groot waarde wat my mede-Afrikaners en Afrikaanstaliges
nog moet ontdek. Die onuitputlike bron van geestelike skatte soos vervat in die
2000-jaar oue bestaan vandie Ortodoksie, is ’n asemrowende ontdekking vir
enigiemand wat ernstig na die Christendom kyk. In ons haglike omstandighede, waar
soveel wat vir baie Afrikaners betekenis gehadhet binne ’n ommesientjie in ’n
groot mate daarmee heen is, en ook Afrikaans werklik bedreig word, bied die
Ortodoksie vir Afrikaanstaliges die moontlikheid om ’n hele nuwe en tog ook bekende Christelike identiteit te ontvang. Dit sal ons mense ’n
geskiedenis en geestelike anker gee wat 2000 jaar oud is en nie gebonde is aan
die klein en kleinlike politieke gebeurtenisse van die dag nie. Daar was
natuurlik
’n tyd toe die hele Kerk Ortodoks was. Dit is eers na 1054 dat daar ’n
skeuring tussen Rome en die ander Kerke ontstaan het; so om terug te keer na
die Ortodoksie is ook om terug te keer na die Christendom soos voor 1054.
Wat ook so interessant is, is dat ek in my vertalings en toonsettings van
die liturgiese tekste ontdek het dat Afrikaans ’n ongelooflike liturgiese taal
is. Die Ortodokse Liturgie klink in Afrikaans asof dit oorspronklik in
Afrikaans sou kon ontstaan het. ’n Verdere aangename ontdekking was dat die
Russies-Ortodokse musiek, waarvoor Afrikaanstaliges ’n instinktiewe aanvoeling
het, die Afrikaanse tekste soos ’n handskoen pas. So kan die Afrikaanse
Ortodoksie een van die vele kulturele uitdrukkingsvorme van die oer-Christendom
wêreldwyd word. Dit is vir my ’n geweldig opwindende gedagte.
Foto van hier af
DVA: Waarom is die Ortodoksie en sy klem op tradisie juis in ons tyd
belangrik?
VZ:
In ons wêreld, waar die geloof nie meer van binne die geloof bestudeer word
nie, maar deur ’n natuurwetenskaplike bril bekyk word, was die skade wat
hierdie proses aan mense se geloof gedoen het, onberekenbaar. Baie mense weet nie
meer wat of hoe om te glo nie. Baie mense gee hulle nou maar oor aan wat die wêreld
bied, sonder dat hulle ooit hoef stil te word en na te dink. (Mense in ons
wêreld kan in ’n grootmate glad nie meer stilte hanteer nie.) In hierdie
chaotiese wêreld waar alles so onseker geraak het, staan die Ortodoks-Christelike
geloof absoluut en onveranderlik vas. En die Ortodokse geloof gaan nie verander
omdat daar nou byvoorbeeld êrens ’n nuwe metode van Skrifnavorsing ontstaan het
nie; die geloof word nie weer van nuuts af uitgevind en op so ’n wyse dat daar
op die ou end feitlik niks van oorbly nie.
In die Ortodoksie het die geloof oor die eeue heen dieselfde gebly. Waar
daar kwessies was waaroor daar ernstige geskille was, het die Kerk haar op die
7 Ekumeniese Konsilies daaroor uitgespreek, en is en word dit deur die hele
Kerk aanvaar. In ons tyd, waarin die Christendom van die Weste in ’n groot mate
aan die disintegreeris, staan die Ortodokse Kerk met haar klem op die geloof
soosons dit van die Apostels ontvanghet, rotsvas geanker. Selfs in ons tyd, in
die tyd van die Kommunisme in Rusland, het die Kerk in weerwil van van
ontsaglike vervolging sewentig jaar van Sowjet-onderdrukking oorleef en word
die Kerk in Rusland vandag gekenmerk deur fenomenale groei. (Daar was, terloops,
in Rusland in die 70 jaar onder die kommunisme meer Christen-martelare as in
die hele vorige 2 000 jaar oor die hele wêreld heen.)
DVA: Die Protestantisme het gevolg op die boekdrukkunsen die Hervorming, en
plaas groot klem op die teks. Hoewel die Protestantisme se grootste bydrae tot
die Christendom moontlik die kritiese, soepele omgang met tekste is, lyk dit
asof die onderspit wat die teks vandag teenoor die beeld delf, die
Protestantisme in ’n krisis dompel en tot ’n al hoe meer wettiese, moralistiese,
letterlike omgang met die teks lei. Dit skep teologiese oppervlakkigheid en
onverdraagsaamheid teenoor vroue, gays en ander minderhede. In die Ortodoksie,
daarenteen,is die lewende tradisie en die liturgie weer moontlik die
belangrikste bydrae tot die Christendom. Kan dit wees dat die krisis van lees
vir die Ortodoksie met sy liggaamlike liturgie nuwe moontlikhede in ons hipervisuele
en -liggaamlike kultuur skep?
VZ:
Ek dink die ontstaan van die Protestantisme is ’n uiters ingewikkelde
kwessie, en om te beweer dat omdat die woord vandag die onderspit delf, dit die
Protestantisme al hoe meer wetties en onverdraagsaam maak, is miskien ’n oorvereenvoudiging.
Die fariseërs en die skrifgeleerdes was nog altyd ’n teenwoordigheid in die
Christendom, beslis ook in die Ortodokse Kerk. Maar myns insiens is die
agteruitgang van die Protestantisme egter juis die meer algemeen
liberalistiese, polities-korrekte omgaan met die Skrif waarvolgens alles en
almal geakkommodeer word, en waar sedelikheid gereduseer word tot persoonlike
smaak en voorkeur, met die gevolglike disintegrasie van gesinne. Die gesin is
die bousteen van die gemeenskap, en as die gesin verbrokkel, verbrokkel die
hele samelewing.
Ek is daarvan oortuig dat die Ortodokse maniervan aanbidding, waarby die liggaam
met al vyf die sintuie betrokke is, nuwe geestelike wêrelde kan oopmaak vir
Christene vir wie aanbidding in ’n groot mate ’n kwessie van denke was. Met die
klem op die woord het die Protestantisme myns insiens dikwels van die liggaam vergeet.
In die Ortodoksie word die Evangelie nie net in woord aan ons verkondig nie, maar
ook in beeld (in die ikone), en aanbid ons deur te kniel en te buig, soms tot
op die grond toe, word feitlik alles gesing, deurtrek die geur van wierook die
kerk dikwels (soos in die tempel van ouds), raak ons die ikone aan en soen
hulle as eerbetoning, en is die hoogtepunt van die Ortodokse Liturgie die
Kommunie van die Liggaam en die Bloed van Christus onder die gedaante van brood
en wyn. Meer "geïnkarneerd" kan ’n mens net nie.
Vir my is daar geen twyfel nie dat die Ortodoksie ’n geestelike tuiste bied
aan enigiemand wat soekend is na die oorspronklike oer-Christendom soos wat ons
dit van die Apostels gekry het. Die eienaardige is dan dat hierdie oeroue Christendom
vandag nog net so kraakvars is soos wat dit in die tyd van die Apostels was. Ek
het nog niemand teengekom wat ons Liturgie in Afrikaans bygewoon het wat gevoel
het dat hulle by ’n museumvertoning was nie; almal is dit eens dat daar in ons
Liturgie ’n lewe is wat vir die meeste mense miskien onbekend is, maar wat vir
hulle nuwe wêrelde oopmaak.
Die Ortodoksie is natuurlik egter ook met die moderne samelewing haaks in
die sin dat die Ortodoksie geen kitsgodsdiens is nie. Dit is ’n manier van doen
wat tyd vra, self-dissipline en ’n verandering van lewenswyse, en dit is vir
mense van vandag uiters moeilik. In plaas van ’n lewe van askese, soos deur die
Ortodoksie verkondig,lewe ons in ’n samelewing waarin hedonisme hoogty vier en
waarin alles moontlik gedoen word om inspanning te vermy.
DVA: Wat is die posisie van vroue in die Ortodoksie?
VZ:
Dit lei geen twyfel nie dat vroue in die Ortodoksie soms in die verlede nie
hoog geag is nie. Aan die ander kant is daar die feit dat daar aan Maria, die
Moeder van God, (die Theotokos), in die Ortodoksie, vanweë haar rol in die
Vleeswording,die hoogste verering gegee word wat aan ’n mens gegee kan word. Sy
is universeel in die Ortodokse wêreld geliefd en word beskou as die Moeder van
die mensdom. In een van die Maria-feeste kom die volgende woorde voor: "Deur
’n vrou het die sonde in die wêreld gekom; deur ’n vrou het die Verlossing in
die wêreld gekom." In die nuwe skepping wat deur Christus (die nuwe Adam)
bewerkstellig is, is Maria vir die Ortodoksie die nuwe Eva; die eerste Eva die
bringer van onheil, die tweede Eva die bringer van Heil.
In die vroeë Kerk was daar die amp van diaken vir vroue, wat in onbruik
geraak het. Vroue het nog nooit in die Ortodoksie die priesterlike of biskoplike
amp beklee nie, en hoewel daar hier en daar stemme opgaan vir die wyding van
vroue tot dié ampte, is dit uiters onwaarskynlik dat dit sal plaasvind. Ná
Christus is ons grootste verering en liefde vir ons liewe Vrou, Maria, deur wie
die Verlossing in die wêreld gekom het, ensy was nóg apostel, nóg presbiter (priester).
DVA: Die Ortodokse kerk ontstaan in ’n voormoderne bestaansekonomie, wat
ook ’n totaal ander omgang met tyd en ruimte as die hedendaagse verbruiksekonomie
en sy groot spoed het. Om vir die Ortodoksie te kies, is dus reeds om haaks op ons tyd en die hoofstroomekonomie te staan. Tog kan
’n modern mens nie sonder meer na ’n voormoderne bestaansekonomie terugkeer
waarby mensehul eie lewensmiddele voorsien en elke dag kapel toe gaan nie. In
watter mate slaag die moderne Ortodoksie daarin om ook ’n ander soort ekonomie
uit te vind wat dit wel vir mense moontlik maak om daarby in te skakel?
VZ:
Die Ortodoksie het nog altyd haaks gestaan ten opsigte van die tyd en die
hoofstroomekonomie waarin dit sigself bevind het. Tog het die Ortodoksie
ook altyd in ’n verhouding daarmee gestaan. ’n Mens dink hier selfsaan Jesus en
sy hantering van die vraag oor die belasting aan die Romeine. Verder was die Christendom
aan die begin ook hoofsaaklik ’n stedelike fenomeen; die gedying van die
Christendom in bestaansekonomieë is iets wat moontlik eers heelwat later gebeur
het. Die feit is egter dat die Ortodoksie nie aangewese is op ’n spesifieke ekonomiese stelsel om te kan funksioneer nie; haar taak en
roeping is om die wêreld en ekonomie waarin sy moet funksioneer, te beïnvloed
deur die innerlike bekering van mense, wat ’n ekonomie en samelewing kan
voortbring wat die Christelike leer in verband met die naasteliefde kan
vergestalt.
Lougkouzi, Uganda, foto van hier af
Sien ook
Oosters-Ortodokse Kerk - Organisasie en leierskap, Geloof, Die Heilige Tradisie en die Bybel
Oosters-Ortodokse Kerk - Tradisies, Dienste, Die Heilige Geheimenisse (Sakramente), Sinodes
Teose - "Hy (Jesus) het ’n mens geword sodat ons god kan word"
Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar
Afrikaans Ortodoks
Oosters-Ortodokse Kerk - Tradisies, Dienste, Die Heilige Geheimenisse (Sakramente), Sinodes
Teose - "Hy (Jesus) het ’n mens geword sodat ons god kan word"
Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar
Afrikaans Ortodoks
The Orthodox Church in the Republic of South Africa
Orthodox in Southern Africa
Orthodox in Gauteng
St Nicholas of Japan, a multi-ethnic orthodox parish in Johannesburg
Orthodoxy.faithweb.com
Khanya
Orthodox in Southern Africa
Orthodox in Gauteng
St Nicholas of Japan, a multi-ethnic orthodox parish in Johannesburg
Orthodoxy.faithweb.com
Khanya
Δεν υπάρχουν σχόλια:
Δημοσίευση σχολίου