Σάββατο 8 Απριλίου 2017

‘n Dienaar en slaaf vir almal


Heilige Maria die Egiptenaar en Theotokos (Moeder van God, die Maagd Maria)


‘n Dienaar en slaaf vir almal
Markus 10:32-45


Vandag, op die Sondag van die Heilige Maria die Egiptenaar, hoor ons Jesus profeteer oor sy Lyding terwyl Hy saam met sy Apostels op pad Jerusalem toe is. Die Heilige Markus beskryf hoe Jacobus en Johannes Hom vra om ereplekke in sy Koninkryk. In antwoord hierop stel Jesus dit vir hulle duidelik dat terwyl die heidene dit normaal ag vir leiers om baas te speel oor ander, dit nie is hoe dinge in sy Koninkryk werk nie. Inteendeel: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees, en elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskeng wees.”
In hierdie insident sien ons hoe die Evangelie wat Jesus predik die waardes van ons wêreld heeltemal omkeer. Ons volg Christus nie om magtig of ryk te word nie, maar om soos Hy te word. En Hy het “nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.” In Jesus Christus sien ons iemand wat Homself ledig vir die verlossing van die wêreld.
Dit is vir ons maklik om krities te wees oor die taamlik klaarblyklike ambisie van die Apostels, wat nog nie geleer het wat dit beteken om Christus te volg nie. Tog het ons almal neigings tot eie-belang waarvan ons nie bewus mag wees nie, en daar is baie subtiele maniere waarop  ons godsdiens kan gebruik om ons eie ego’s te stut terwyl ons verwag dat ons vroomheid op die een of ander manier op erkenning sal uitloop. Op ons vastydweg bid ons dat God ons verlangens sal suiwer, ons ware nederigheid sal leer en ons al hoe meer sal vorm volgens die Beeld van sy Seun, wat ons leer wat ware grootheid beteken.

Voor Hy Homself verneder het, het net die engele Hom geken. Na Hy Homself verneder het, het die hele menslike geslag Hom geken. ‘n Mens sien hoe sy Selfvernedering nie meegebring het dat Hy minder het nie, maar dat dit tallose voordele, tallose dade van deugsaamheid, meegebring het, en sy heerlikheid met groter helderheid laat straal het. God wil niks hê nie en het niks nodig nie. Tog het Hy, toe Hy Homself verneder het, soveel goedheid voortgebring, sy huishouding uitgebrei, en sy Koninkryk vergroot. Waarom is jy dan bang dat jy minder sal word as jy jouself verneder? 
Die Heilige Johannes Chrysostomos

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 2 April 2017.
  
Markus 9:17-31

Vandag, op die Sondag van die Heilige Johannes Klimakus, hoor ons die verhaal van die genesing van die seun wat ‘n stomme gees gehad het. Sy vader, desperaat dat hy homself gaan vernietig, het hom na Jesus se dissipels gebring, maar hulle kon die gees nie uit hom dryf nie. Jesus Christus verklaar egter dat enigiets moontlik is vir diegene wat glo, waarop sy vader uitroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp.”
Hierdie voorval herinner ons daaraan dat die redding wat Jesus Christus ons bied, te make het met ons genesing. En hierdie genesing kan meer beteken as wat ons soms verwag. Ons is miskien nie besete met geeste wat ons in die vuur probeer gooi nie, maar ons is almal deur ‘n gees van stomheid geraak. Ons menslike kommunikasie is deur die die sondeval aangetas, ons het die vermoë verloor om te praat soos wat ons moet, en menslike spraak het al te dikwels ontaard in woede en aggressie. En tog, as ons eerlik is met onsself, weet ons dat dit nie is hoe dit behoort te wees nie en dat ons daarna verlang om genees te word.
Ons het reeds gesien dat ons geloof moet hê – selfs geloof te midde van twyfel – ten einde genees te word. Maar Christus sê ook vir ons dat hierdie soort gees “deur niks anders (kan) uitgaan as gebed.” Dit is in en deur gebed dat ons die krag van God in ons lewens ontdek. Dit is deur die volgehoue beoefening van gebed dat ons geleidelik leer om te glo. Dit is deur gebed dat ons genees kan word van ons verwronge kommunikasiepatrone, want daar is ‘n regstreekse verband tussen ons verhouding met God en ons verhoudings met diegene om ons. Ware gebed lei ons na ‘n plek waar God ons kan genees. Dit stel ons in staat om die verskillende mededingende geluide wat die wêreld en ons eie wanaangepaste toestand ons kant toe gooi, eenkant te laat sodat ons deur die genesende krag van God aangeraak kan word.
 
Dit is nie nodig om lang gesprekke te voer nie; dit is genoeg om jou hande uit te steek en te sê: “Here, soos U wil, en soos U weet; wees barmhartig” En as die stryd in felheid toeneem, sê dan: “Here, help!” God weet baie goed wat ons nodig het en hy betoon ons sy barmhartigheid.”

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 26 Maart 2017

Sien ook
 
 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου