Πέμπτη 11 Φεβρουαρίου 2016

Oosters-Ortodokse Kerk - Organisasie en leierskap, Geloof, Die Heilige Tradisie en die Bybel


af.wikipedia.org (saam met my eie ingrypings)

Die Ortodokse Kerk, amptelik die Ortodoks-Katolieke Kerk [*] en algemeen bekend as die Oosters-Ortodokse Kerk, is die tweede grootste Christelike denominasie in die wêreld, met ’n geskatte 300 miljoen aanhangers hoofsaaklik in Belarus, Bulgarye, Siprus, Georgië, Griekeland, Masedonië, Moldowa, Montenegro, Roemenië, Rusland, Serwië en die Oekraïne, lande waarin die meeste Christene Oosters-Ortodoks is. Die Kerk beskou homself as die "Een, Heilige, Katolieke en Apostoliese Kerk" wat 2 000 jaar gelede deur Jesus Christus en sy dissipels gestig is.

[*] Die Ortodokse Kerk beskou homself as beide ortodoks en katoliek. Vroeër het die Kerk na homself verwys as die "Katolieke Kerk". Tans word die naam "Ortodokse Kerk" verkies, moontlik om verwarring met die Rooms-Katolieke Kerk te voorkom. In amptelike kerkdokumente word na die Kerk verwys as die "Ortodoks-Katolieke Kerk".

Die Ortodokse Kerk bestaan uit verskeie outokefale kerkliggame (elk met ’n eie hoof) wat geografies en nasionaal verskil, maar teologies ooreenstem. Elke outokefale liggaam, wat dikwels maar nie altyd nie tot ’n nasie beperk is, word gelei deur ’n sinode van biskoppe en is administratief selfregerend.

Die Ortodokse Kerk kan sy ontwikkeling terugherlei deur die Bisantynse en die Romeinse Ryk na die vroegste kerk wat deur Paulus en die ander dissipels gestig is. Dit beoefen wat dit glo die oorspronklike, antieke tradisies is en glo in groei sonder verandering.

Die doel van Ortodokse Christene van hul doop af is om deur hul hele lewe nader aan God te groei. Dié proses word "teose" of "vergoddeliking" genoem en is ’n spirituele pelgrimstog waarin elke mens daarna streef om deur Jesus Christus heiliger en meer "soos Christus" te word.

 
 Foto van hier af

Die Bybelse teks wat deur die Ortodokse Kerk gebruik word, sluit in die Septuagint (die antieke Griekse vertaling van die Hebreeuse Bybel) en die Nuwe Testament. Dit sluit in die deuterokanonieke boeke (boeke van die Ou Testament wat nie deel is van die Hebreeuse Bybel nie) wat gewoonlik deur die Protestante verwerp word en ’n klein aantal ander boeke wat nie deel is van die Westerse kanonieke boeke nie. Ortodokse Christene gebruik die woord "Anagignoskomena" (’n Griekse woord wat "leesbaar" of "leeswaardig" beteken) vir die tien boeke wat hulle aanvaar maar nie deel is van die Protestantse Ou Testament van 39 boeke nie. Hulle word beskou as eerbiedwaardig, maar nie op dieselfde vlak as die Hebreeuse kanonieke boeke nie.

Ortodokse Christene glo die Skrif is deur die Heilige Gees aan die menslike skrywers daarvan geopenbaar. Die Skrif is egter nie die bron van die kerk se tradisies nie, maar eerder die teenoorgestelde: Die Bybelse teks het uit die kerktradisies ontstaan.

Ikone versier die mure van Ortodokse kerke en hagiografieë (die beskrywings van heiliges se lewe) bedek dikwels die hele binnekant van die kerke. Die meeste Ortodokse kerke het ’n area wat opsygesit word vir gebede deur gesinne met ikone van Christus, die Maagd Maria en die heiliges gewoonlik aan die oostemure.

Hoewel die term "Oosters" algemeen gebruik word vir die Ortodokse Kerk, kan dit vandag misleidend wees omdat daar baie sinodes van die Kerk in Wes-Europa en eintlik oral in die wêreld is.


Definisie

Byna van die begin af het Christene na die Ortodokse Kerk verwys as die "Een, Heilige, Katolieke (van die Griekse καθολική, of universele) en Apostoliese Kerk". ’n Paar ander Christelike kerke maak vandag aanspraak op die naam – onder andere die Rooms-Katolieke Kerk, die Anglikaanse Gemeenskap, die Assiriese Kerk en die Oriëntaal-Ortodokse Kerk – maar die Oosters-Ortodokse Kerk beskou hierdie kerke as skismaties of in sommige gevalle selfs as ketters. Volgens hulle het die Assiriese en die Oriëntale Kerk die Ortodokse Kerk in die eerste paar eeue n.C. verlaat, en later het die Rooms-Katolieke dieselfde gedoen met die Oosterse Skisma (hulle was die grootste groep wat ooit die Kerk verlaat het).

"Ortodoks" kom van die Griekse byvoeglike naamwoord orthos ("korrek", "reg") en die werkwoord dokein ("lyk soos", en dus in ’n breër sin "glo") of die selfstandige naamwoord doxa ("geloof"), en beteken dus reggelowig. Die Kerk het die naam aangeneem om hom te onderskei van ’n toenemende aantal nie-ortodokse Christelike kerke. Verskeie ander antieke kerke in Oos-Europa, Wes-Asië en Noord-Afrika gebruik ook die naam "Ortodoks", maar staan los van die Oosters-Ortodokse Kerk.  

Stylverskille


Die Neamţ-klooster in Roemenië.

Wat die Ortodokse kerke verenig, is teologie. Al die lede van die Kerk bely dieselfde geloof, ongeag ras of nasionaliteit. In die praktyke en tradisies is daar egter stylverskille wat deur die kerkleiers aanvaar word omdat hulle nie bots met die basiese Ortodokse leerstellings nie.

Daarom het baie Ortodokse kerke ’n nasionale naam (soos die Russies-Ortodokse Kerk, die Georgies-Ortodokse Kerk, die Masedonies-Ortodokse Kerk, ens.). In die Midde-Ooste word Ortodokse kerke dikwels Rooms-Ortodoks genoem vanweë hul historiese verbintenis met die Bisantynse, of Oos-Romeinse, Ryk.

Die verskille in die liturgiese praktyke is klein. Dit beïnvloed dinge soos die volgorde waarin gesange gesing word of wanneer ’n spesifieke diens gehou word. In die algemeen kan ’n Ortodokse Christen oor die wêreld heen reis en vertroud voel met die dienste in enige kerk as hy die spesifieke taal verstaan.

 Foto van hier af

Organisasie en leierskap
 
Die permanente kriteria vir die kerkstruktuur van die Ortodokse Kerk vandag, benewens die Nuwe Testament, word gevind in die kanons (kerkwette en –dekrete) van die eerste sewe Ekumeniese Konsilies (raadsvergaderings); die kanons van verskeie plaaslike en provinsiale konsilies waarvan die outoriteit deur die hele kerk erken word; die sogenaamde Apostoliese Kanons (eintlik ’n aantal 4de-eeuse regulasies van die kerk in Sirië); en die "kanons van die Vaders", of uitgesoekte uittreksels van prominente kerkleiers wat kanonieke aansien geniet.
Die Ortodokse Kerk beskou Jesus Christus as die Hoof van die Kerk, en die Kerk as sy Liggaam. Daar is dus nie net een biskop aan die hoof van die Ortodokse Kerk nie; verwysings na die Patriarg van Konstantinopel as ’n leier soortgelyk aan die Rooms-Katolieke Kerk se pous is verkeerd. Daar word geglo die gesag en die genade van God word regstreeks deurgegee na die Ortodokse biskoppe en predikers deur handoplegging – ’n praktyk wat begin is deur die dissipels (Hand. 8:17, 1 Tim. 4:14, Heb. 6:2) – en dat hierdie ononderbroke historiese en fisieke skakel ’n noodsaaklike element van die ware Kerk is.


Inhuldiging van die Patriarg van Moskou en die Hele Rusland.

Elke biskop is die hoof van sy setel. Sy hoofdoel is om seker te maak die tradisies en praktyke van die Kerk word gehandhaaf. Biskoppe het dieselfde gesag en kan nie inmeng in die jurisdiksie van ’n ander biskop nie. Administratief word die biskoppe en hul setels ingedeel in verskeie onafhanklike groepe of biskopsinodes wat minstens twee keer per jaar vergader om sake in hul onderskeie setels te bespreek. Hoewel biskoppe en hul sinodes leiding kan gee in individuele gevalle, raak hul besluite nie gewoonlik die hele Kerk nie. Biskoppe word feitlik altyd uit die monnikestand gekies en moet ongetroud bly.
’n Paar keer is die Ortodokse geloof in die gesig gestaar deur alternatiewe teologiese idees. In dié gevalle het die Kerk dit nodig geag om ’n "Groot" (ekumeniese, of algemene) Konsilie byeen te roep van alle beskikbare biskoppe in die wêreld. Die Kerk beskou die eerste sewe Groot Konsilies (wat tussen die 4de en 8ste eeu gehou is) as die belangrikstes. Daar was egter meer, veral die Sinodes van Konstantinopel (879–880, 1341, 1347, 1351, 1583, 1819 en 1872) die Sinode van Iaşi (1642) en die Pan-Ortodokse Sinode van Jerusalem (1672). Al dié konsilies het die Ortodokse standpunt van die Kerk help bepaal.


Die Groot Konsilies het ’n demokratiese stelsel gevolg; elke biskop het een stem gehad. Lede van die Keiserlike Romeinse/Bisantynse hof, abte, priesters, monnike en niegeestelikes mag teenwoordig gewees het en die raad toegespreek het, maar hulle is nie toegelaat om te stem nie. Die hoofdoel van die Groot Konsilies was om die fundamentele oortuigings van die Kerk as die waarheid te ondersoek en te bevestig, en om enige valse leerstelling wat die Kerk bedreig, te verwyder as dwaalleer. Die pous van Rome was in dié tyd die “eerste onder gelykes”. Hoewel hy nie teenwoordig was by enige van die konsilies nie, het hy dié titel behou tot met die Oosterse Skisma van 1054.
Volgens die Ortodokse leerstellings gee die posisie van “eerste onder gelykes” geen bykomende mag of gesag aan die houer daarvan nie, maar dié spesifieke biskop is die organisatoriese hoof van ’n raad van gelykes (soos ’n president). Sy woorde en opinies dra nie meer gewig as enige ander biskop s’n nie. Daar word geglo die Heilige Gees lei die Kerk deur die besluite van die hele raad, nie een individu nie. Daarby moet selfs die raad se besluite deur die hele Kerk aanvaar word om geldig te kan wees.
Een van die besluite van die Eerste Konsilie van Konstantinopel (die tweede Groot Konsilie, in 381) wat deur latere konsilies ondersteun is, is dat die Patriarg van Konstantinopel gelyke status moes hê as die Pous van Rome aangesien Konstantinopel beskou is as die "Nuwe Rome". Hulle moes dus dieselfde voorregte geniet omdat hulle albei biskoppe van die keiserlike hoofstede was, maar die "biskop van Rome" sou voorrang hê bo die biskop van Konstantinopel omdat die Ou Rome die Nuwe Rome voorafgegaan het.
Ná die Oosterse Skisma erken die Ortodokse Kerk egter nie meer die wettigheid van die pous nie en die patriarg is dus nou die "eerste onder gelykes", die pous se titel voor die skeuring. Dit beteken egter nie hy is die leier van die Kerk nie. Dit is ook nie ’n amptelike titel nie, maar net ’n manier om die senioriteit van die "keiserlike" biskoppe te beskryf in verhouding tot ander biskoppe.

Aantal volgelinge
 

Verspreiding van Oosters-Ortodokse (in blou) en Oriëntaal-Ortodokse Christene (in rooi) in die wêreld ██ Hoofgodsdiens (meer as 75%) ██ Hoofgodsdiens (50% - 75%) ██ Belangrike minderheid (20% - 50%) ██ Belangrike minderheid (5% - 20%) ██ Minderheid (1% - 5%) 
Na aanleiding van sy aantal volgelinge is die Ortodokse Kerk die tweede grootste Christelike gemeenskap in die wêreld (net die Rooms-Katolieke Kerk is groter). Die mees algemene skatting van die aantal Ortodokse Christene wêreldwyd is 300 miljoen.

Ortodoksie is die grootste enkele godsdiens in Griekeland (95%) en Oos-Europa, insluitende Rusland (80%), die Oekraïne (80%), Roemenië (87%), Belarus (85%), Bulgarye (83%), Serwië (84%), Georgië (89%), Moldowa (93%), die Republiek van Masedonië (65%), Siprus (80%) en Montenegro (74%).

Die aantal Ortodokse volgelinge is sowat 36% van die bevolking van Bosnië en Herzegowina (Bosniese Serwiërs). In Albanië is dit sowat 25% (die Christelike deel van die bevolking is 40%; die ander is Rooms-Katoliek). In Kazachstan is hulle 40% van die bevolking, in Litaue 4%, in Letland 9% en in Estland 13%. Groot Ortodokse gemeenskappe bestaan ook in die Mediterreense lande Sirië, Libanon, Jordanië en in Israel, die Wesoewer en die Gazastrook. Daar is Ortodokse minderhede in Pole, Slowakye, Hongarye, Turkye, Azerbeidjan en Tsjeggië.

Vanweë immigrasie uit Oos-Europa is daar ook groeiende minderhede in verskeie ander Europese, Asiatiese en Afrika-lande, asook Noord-Amerika en Australië. In die VSA en Kanada maak Ortodokse Christene tussen 1% en 5% van die algehele bevolking uit.

Antieke Oosters-Ortodokse Christene het ook groot gemeenskappe in lande soos Libanon en Israel (Jerusalem en Betlehem). Groot Ortodokse gemeenskappe met ’n antieke geskiedenis is in hul geheel uit hul oorspronklike lande verdryf en is tans glad nie in dié streke teenwoordig nie, veral Anatolië en Kappadosië.
 

Geloof 

Drie-eenheid en verlossing

Ortodokse Christene glo in die Heilige Drie-eenheid – die Vader, Seun en Heilige Gees.
Hulle glo die mens het op ’n tydstip aan die begin van sy bestaan voor ’n keuse te staan gekom: om die verskil tussen goed en kwaad te leer deur waarneming of deur deelname. Die Bybelse storie van Adam en Eva verteenwoordig hierdie keuse deur die mens om aan die bose deel te neem. Die sondeval verteenwoordig ’n fundamentele verandering in die menslike natuur. Wanneer Ortodokse Christene verwys na die Oorspronklike Sonde, verwys hulle na hierdie vermoë om die bose in die menslike natuur op te neem.
Weens dié sonde was die mens gedoem om van God geskei te wees. Die oplossing vir die probleem was vir God om nog ’n verandering in die menslike natuur teweeg te bring. Ortodokse Christene glo dat Jesus onvoorwaardelik God en Man was. Hy is gebore en het gelewe, gesterf en weer opgestaan deur die mag van die Heilige Gees. Deur God se deelname aan die mensdom is die menslike natuur weer verander en is die mens van die verdoemenis gered. Dit sluit almal in van die vroegste tye af – tot by Adam en Eva.
Die eindelike doel van hierdie verlossing is teose (vergoddeliking) – om selfs nader aan God te kom en meer soos God te word: "God het Mens geword sodat die Mens God kan word."

Wederopstanding
 

’n 16de-eeuse Russies-Ortodokse ikoon van die Wederopstanding.

Die Wederopstanding van Jesus is die hoofgebeurtenis in die Oosters-Ortodokse liturgiese jaar. Toe Jesus gesterf het, het Hy al die siele in die hel gered en deur weer op te staan het Hy die mensdom gered. So is die mens van die kettings van die hel verlos en het Jesus teruggekeer na die lewendes as beide Man en God. Volgens die Ortodokse tradisies kan elke mens aan hierdie onsterflikheid deel hê, iets wat onmoontlik sou gewees het sonder die Wederopstanding.
Elke heilige dag van die Ortodokse liturgiese jaar hou direk of indirek verband met die Wederopstanding. Elke Sondag word gewy aan die viering van die Wederopstanding en die Drie-enige God.

Die Heilige Tradisie en die Bybel

Die Ortodokse Kerk beskou homself as die voortsetting van die oorspronklike Kerk wat deur Jesus Christus en sy dissipels gestig is. Die geloof wat Jesus aan die dissipels geleer het, wat by die Pinkster lewe gegee is deur die Heilige Gees en onbedorwe van geslag tot geslag oorgedra is, staan bekend as die Heilige Tradisie. Die primêre en gesaghebbende getuienis vir die Heilige Tradisie is die Bybel, tekste wat deur die dissipels geskryf is of dié in die Vroeë Kerk, en wat deur kerkleiers goedgekeur is onder leiding van die Heilige Gees. Aangesien die Bybel ’n geïnspireerde oorsprong het, is dit sentraal in die lewe van die Kerk. Die Skrif word egter nooit gebruik vir persoonlike interpretasie nie, maar altyd in konteks met die Heilige Tradisie, waaruit die Skrif ontstaan het. Ortodokse Christene glo as die Bybel op sy eie gelees word, kan dit lei tot foute omdat die Skrif nie geskei kan word van die tradisies waaruit dit ontstaan het nie. Die enigste manier om die Bybel te verstaan is dus binne die Kerk.

Ander getuienisse vir die Heilige Tradisie is die liturgie van die Kerk, sy ikonografie, die besluite van die Groot Konsilies en die geskrifte van die kerkvaders. Deur die konsensus van die kerkvaders kan ’n mens die Kerk se lewe beter verstaan. Individuele vaders word nie as onfeilbaar beskou nie, maar hulle gesamentlike opvattings help ’n mens om die Christelike doktrine waarlik te verstaan.

Teotokos en ander heiliges
 

Die Teotokos van Wladimir, een van die mees geëerde Ortodokse ikone van die Maagd Maria.

Die Ortodokse Kerk glo die dood en die skeiding van liggaam en gees is onnatuurlik, ’n gevolg van die sondeval. Hulle glo ook die gemeente van die Kerk sluit in die lewendes en die dooies. Alle mense wat in die hemel is, is heiliges, of hul naam bekend is of nie. Daar is egter uitsonderlike heiliges wat deur God geopenbaar word. Wanneer ’n heilige so geopenbaar is en eindelik deur ’n groot deel van die Kerk erken word, word ’n diens gehou om die amptelike erkenning (heiligverklaring) te vier. Dit "maak" nie van die persoon ’n heilige nie, dit erken bloot die feit dat hy een is en maak dit aan die res van die Kerk bekend. ’n Dag word aangewys vir die viering van die heilige se lewe, gesange word gekomponeer en ikone gemaak. Die heiliges word vereer, maar nie aanbid nie, want net God kan aanbid word. Daar word geglo deur heiliges te vereer sal hulle help met die redding van ander mense.
Vanweë die heiligheid van die mense se lewe word hulle liggame en fisieke items wat met hulle verbind word, ook as heilig beskou. Baie wonderwerke het na bewering al plaasgevind wat verband hou met hierdie relieke van die heiliges, veral genesing van siektes en beserings.
Die grootste heilige is die Maagd Maria, die Teotokos ("Geboorteskenker van God"). Sy word beskou as die Ark van die Nuwe Verbond, omdat sy die Nuwe Verbond gedra het in die persoon van Christus.

Sien ook

Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar 
Afrikaans Ortodoks
Ortodokse Christelike priester uit kenia

  

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου