Δευτέρα, 15 Φεβρουαρίου 2016

Afrikaners en die transendente: Waarom ek die Ortodoksie gekies het




Foto van hier af 

Onderhoud met Vr Zacharias deur Johann Rossouw van die destydse Vrye Afrikaan
 
Vader Zacharias van Wyk*
Uit die Vrye Afrikaan
26 April 2006

*Priester van die Afrikaanse Ortodokse Gemeenskap van die Heilige Johannesdie Doper, Robertson

Die Vrye Afrikaan: U is die eerste Afrikaner wat u as Ortodokse priester laat wy het. Hoe het dit gekom?

Vader Zacharias:
My ontdekking van die Ortodoksie is ’n verhaal met ’n lang aanloop. Dit was deel van ’n pad wat begin het met my ervarings van opstandigheid in my kinderjare teen die NG Kerk, geloop het deur ’n bekering tydens my laat tienerjare tot die Rooms-Katolisisme (in die jare van die Tweede Vatikaanse Konsilie, waartydens die Rooms-Katolieke Kerk enorme veranderinge ondergaan het), jare van toeskouer wees van die godsdienstige wêreld en – tydens die politieke krisis en omwentelinge van dielaat 1980’s (soos ek dit beleef het) – my ontdekking van die Boeddhisme en meditasie, wat, eienaardig genoeg, tot my herontdekking van die Christendom en die Persoon van Jesus gelei het. My ontdekking van die Ortodoksie het gekom aan die einde van ’n lang soektog in die Christelike wêreld en was vir my ’n openbaring: vir die eerste keer in my lewe het die Christendom soveel sin gemaak, en op so ’n manier dat ek nie allerande innerlike kompromieë hoef te gemaak het nie.

DVA: Wat is die kern van die Ortodoksie?

VZ:
In afwagting op die begin van die viering van Pasga, die Opstandingsfees, die fees der feeste in die Ortodoksie, is die kerk ’n hele tyd lank in totale duisternis gehul terwyl die gemeente in stilte wag op die aanbreek van die feesom middernag. Om middernag steek die priester sy kers aan en gee hy die lig aan hulle rondom hom, en die feesgangers gee dan weer die lig aan dié om hulle, totdat die kerk net ’n massa lig is. Terwyl dit gebeur, word gesing:
"Kom en ontvang die lig van die Aandlose Lig, en verheerlik Christus, wat opgestaan het uit die dood." Dit, vir my, is die kern van die Ortodoksie: dat God mens geword het om ons uit die duisternis na die Lig te bring en ons vry te maak van die dood.
Die Ortodoksie is dus die fundamentele Christelike geloof soos wat dit van die eerste Pinkster af deur die Apostels aan ons oorgedra is, naamlik dat God as die Persoon Jesus mens geword het om die mensdom van die bande van die sonde en die dood te bevry. Soos die Vaders dit so graag gestel het: God het mens geword, sodat die mens weer god kon word. Want dit is die roeping van elke mens, om soos God te word, sodat elkeen op sy eie unieke manier nie net God se heerlikheid weerspieël nie, maar ook daarin deel.
Die Ortodoksie is dan ook fundamenteel ’n manier van lewe; dit is beslis nie iets wat jy net op Sondae kan beoefen nie.
’n Uiters belangrike kwessie is dat die Ortodoksie nie met ’n natuurwetenskaplike bril na die geloof kyk nie. ’n Ortodokse Christen kyk vanuit diegeloof na diegeloof. Natuurwetenskap en geloof is twee verskillende goed. Die Cartesiaanse manier van wetenskapbeoefening maak in die Ortodoksie nie veel sin nie. Die Fenomenologie en die Ortodoksie leef egter baie maklik langs mekaar. Vir ’n Ortodokse Christen is daar geenspanning tussen geloof en wetenskap nie.

DVA: Waarom is dit vir u belangrik om juis ’n Afrikaanse Ortodokse Gemeenskap te vestig?

VZ:
Al wat die meeste Afrikaanstaliges ken, is die Calvinisme en die myns insiens oppervlakkige charismatiese Christendom. Van die tradisionele Christendom weet Afrikaanstaliges oor die algemeen maar min. En wat my betref, is die Ortodoksie die pêrel van groot waarde wat my mede-Afrikaners en Afrikaanstaliges nog moet ontdek. Die onuitputlike bron van geestelike skatte soos vervat in die 2000-jaar oue bestaan vandie Ortodoksie, is ’n asemrowende ontdekking vir enigiemand wat ernstig na die Christendom kyk. In ons haglike omstandighede, waar soveel wat vir baie Afrikaners betekenis gehadhet binne ’n ommesientjie in ’n groot mate daarmee heen is, en ook Afrikaans werklik bedreig word, bied die Ortodoksie vir Afrikaanstaliges die moontlikheid om ’n hele nuwe en tog ook bekende Christelike identiteit te ontvang. Dit sal ons mense ’n geskiedenis en geestelike anker gee wat 2000 jaar oud is en nie gebonde is aan die klein en kleinlike politieke gebeurtenisse van die dag nie. Daar was natuurlik
’n tyd toe die hele Kerk Ortodoks was. Dit is eers na 1054 dat daar ’n skeuring tussen Rome en die ander Kerke ontstaan het; so om terug te keer na die Ortodoksie is ook om terug te keer na die Christendom soos voor 1054.
Wat ook so interessant is, is dat ek in my vertalings en toonsettings van die liturgiese tekste ontdek het dat Afrikaans ’n ongelooflike liturgiese taal is. Die Ortodokse Liturgie klink in Afrikaans asof dit oorspronklik in Afrikaans sou kon ontstaan het. ’n Verdere aangename ontdekking was dat die Russies-Ortodokse musiek, waarvoor Afrikaanstaliges ’n instinktiewe aanvoeling het, die Afrikaanse tekste soos ’n handskoen pas. So kan die Afrikaanse Ortodoksie een van die vele kulturele uitdrukkingsvorme van die oer-Christendom wêreldwyd word. Dit is vir my ’n geweldig opwindende gedagte.


DVA: Waarom is die Ortodoksie en sy klem op tradisie juis in ons tyd belangrik?

VZ:
In ons wêreld, waar die geloof nie meer van binne die geloof bestudeer word nie, maar deur ’n natuurwetenskaplike bril bekyk word, was die skade wat hierdie proses aan mense se geloof gedoen het, onberekenbaar. Baie mense weet nie meer wat of hoe om te glo nie. Baie mense gee hulle nou maar oor aan wat die wêreld bied, sonder dat hulle ooit hoef stil te word en na te dink. (Mense in ons wêreld kan in ’n grootmate glad nie meer stilte hanteer nie.) In hierdie chaotiese wêreld waar alles so onseker geraak het, staan die Ortodoks-Christelike geloof absoluut en onveranderlik vas. En die Ortodokse geloof gaan nie verander omdat daar nou byvoorbeeld êrens ’n nuwe metode van Skrifnavorsing ontstaan het nie; die geloof word nie weer van nuuts af uitgevind en op so ’n wyse dat daar op die ou end feitlik niks van oorbly nie.
In die Ortodoksie het die geloof oor die eeue heen dieselfde gebly. Waar daar kwessies was waaroor daar ernstige geskille was, het die Kerk haar op die 7 Ekumeniese Konsilies daaroor uitgespreek, en is en word dit deur die hele Kerk aanvaar. In ons tyd, waarin die Christendom van die Weste in ’n groot mate aan die disintegreeris, staan die Ortodokse Kerk met haar klem op die geloof soosons dit van die Apostels ontvanghet, rotsvas geanker. Selfs in ons tyd, in die tyd van die Kommunisme in Rusland, het die Kerk in weerwil van van ontsaglike vervolging sewentig jaar van Sowjet-onderdrukking oorleef en word die Kerk in Rusland vandag gekenmerk deur fenomenale groei. (Daar was, terloops, in Rusland in die 70 jaar onder die kommunisme meer Christen-martelare as in die hele vorige 2 000 jaar oor die hele wêreld heen.)

DVA: Die Protestantisme het gevolg op die boekdrukkunsen die Hervorming, en plaas groot klem op die teks. Hoewel die Protestantisme se grootste bydrae tot die Christendom moontlik die kritiese, soepele omgang met tekste is, lyk dit asof die onderspit wat die teks vandag teenoor die beeld delf, die Protestantisme in ’n krisis dompel en tot ’n al hoe meer wettiese, moralistiese, letterlike omgang met die teks lei. Dit skep teologiese oppervlakkigheid en onverdraagsaamheid teenoor vroue, gays en ander minderhede. In die Ortodoksie, daarenteen,is die lewende tradisie en die liturgie weer moontlik die belangrikste bydrae tot die Christendom. Kan dit wees dat die krisis van lees vir die Ortodoksie met sy liggaamlike liturgie nuwe moontlikhede in ons hipervisuele en -liggaamlike kultuur skep?

VZ:
Ek dink die ontstaan van die Protestantisme is ’n uiters ingewikkelde kwessie, en om te beweer dat omdat die woord vandag die onderspit delf, dit die Protestantisme al hoe meer wetties en onverdraagsaam maak, is miskien ’n oorvereenvoudiging. Die fariseërs en die skrifgeleerdes was nog altyd ’n teenwoordigheid in die Christendom, beslis ook in die Ortodokse Kerk. Maar myns insiens is die agteruitgang van die Protestantisme egter juis die meer algemeen liberalistiese, polities-korrekte omgaan met die Skrif waarvolgens alles en almal geakkommodeer word, en waar sedelikheid gereduseer word tot persoonlike smaak en voorkeur, met die gevolglike disintegrasie van gesinne. Die gesin is die bousteen van die gemeenskap, en as die gesin verbrokkel, verbrokkel die hele samelewing.
Ek is daarvan oortuig dat die Ortodokse maniervan aanbidding, waarby die liggaam met al vyf die sintuie betrokke is, nuwe geestelike wêrelde kan oopmaak vir Christene vir wie aanbidding in ’n groot mate ’n kwessie van denke was. Met die klem op die woord het die Protestantisme myns insiens dikwels van die liggaam vergeet. In die Ortodoksie word die Evangelie nie net in woord aan ons verkondig nie, maar ook in beeld (in die ikone), en aanbid ons deur te kniel en te buig, soms tot op die grond toe, word feitlik alles gesing, deurtrek die geur van wierook die kerk dikwels (soos in die tempel van ouds), raak ons die ikone aan en soen hulle as eerbetoning, en is die hoogtepunt van die Ortodokse Liturgie die Kommunie van die Liggaam en die Bloed van Christus onder die gedaante van brood en wyn. Meer "geïnkarneerd" kan ’n mens net nie.
Vir my is daar geen twyfel nie dat die Ortodoksie ’n geestelike tuiste bied aan enigiemand wat soekend is na die oorspronklike oer-Christendom soos wat ons dit van die Apostels gekry het. Die eienaardige is dan dat hierdie oeroue Christendom vandag nog net so kraakvars is soos wat dit in die tyd van die Apostels was. Ek het nog niemand teengekom wat ons Liturgie in Afrikaans bygewoon het wat gevoel het dat hulle by ’n museumvertoning was nie; almal is dit eens dat daar in ons Liturgie ’n lewe is wat vir die meeste mense miskien onbekend is, maar wat vir hulle nuwe wêrelde oopmaak.
Die Ortodoksie is natuurlik egter ook met die moderne samelewing haaks in die sin dat die Ortodoksie geen kitsgodsdiens is nie. Dit is ’n manier van doen wat tyd vra, self-dissipline en ’n verandering van lewenswyse, en dit is vir mense van vandag uiters moeilik. In plaas van ’n lewe van askese, soos deur die Ortodoksie verkondig,lewe ons in ’n samelewing waarin hedonisme hoogty vier en waarin alles moontlik gedoen word om inspanning te vermy.

DVA: Wat is die posisie van vroue in die Ortodoksie?

VZ:
Dit lei geen twyfel nie dat vroue in die Ortodoksie soms in die verlede nie hoog geag is nie. Aan die ander kant is daar die feit dat daar aan Maria, die Moeder van God, (die Theotokos), in die Ortodoksie, vanweë haar rol in die Vleeswording,die hoogste verering gegee word wat aan ’n mens gegee kan word. Sy is universeel in die Ortodokse wêreld geliefd en word beskou as die Moeder van die mensdom. In een van die Maria-feeste kom die volgende woorde voor: "Deur ’n vrou het die sonde in die wêreld gekom; deur ’n vrou het die Verlossing in die wêreld gekom." In die nuwe skepping wat deur Christus (die nuwe Adam) bewerkstellig is, is Maria vir die Ortodoksie die nuwe Eva; die eerste Eva die bringer van onheil, die tweede Eva die bringer van Heil.
In die vroeë Kerk was daar die amp van diaken vir vroue, wat in onbruik geraak het. Vroue het nog nooit in die Ortodoksie die priesterlike of biskoplike amp beklee nie, en hoewel daar hier en daar stemme opgaan vir die wyding van vroue tot dié ampte, is dit uiters onwaarskynlik dat dit sal plaasvind. Ná Christus is ons grootste verering en liefde vir ons liewe Vrou, Maria, deur wie die Verlossing in die wêreld gekom het, ensy was nóg apostel, nóg presbiter (priester).

DVA: Die Ortodokse kerk ontstaan in ’n voormoderne bestaansekonomie, wat ook ’n totaal ander omgang met tyd en ruimte as die hedendaagse verbruiksekonomie en sy groot spoed het. Om vir die Ortodoksie te kies, is dus reeds om haaks op ons tyd en die hoofstroomekonomie te staan. Tog kan ’n modern mens nie sonder meer na ’n voormoderne bestaansekonomie terugkeer waarby mensehul eie lewensmiddele voorsien en elke dag kapel toe gaan nie. In watter mate slaag die moderne Ortodoksie daarin om ook ’n ander soort ekonomie uit te vind wat dit wel vir mense moontlik maak om daarby in te skakel?

VZ:
Die Ortodoksie het nog altyd haaks gestaan ten opsigte van die tyd en die
hoofstroomekonomie waarin dit sigself bevind het. Tog het die Ortodoksie ook altyd in ’n verhouding daarmee gestaan. ’n Mens dink hier selfsaan Jesus en sy hantering van die vraag oor die belasting aan die Romeine. Verder was die Christendom aan die begin ook hoofsaaklik ’n stedelike fenomeen; die gedying van die Christendom in bestaansekonomieë is iets wat moontlik eers heelwat later gebeur het. Die feit is egter dat die Ortodoksie nie aangewese is op ’n spesifieke ekonomiese stelsel om te kan funksioneer nie; haar taak en roeping is om die wêreld en ekonomie waarin sy moet funksioneer, te beïnvloed deur die innerlike bekering van mense, wat ’n ekonomie en samelewing kan voortbring wat die Christelike leer in verband met die naasteliefde kan vergestalt. 
 

Lougkouzi, Uganda, foto van hier af

Sien ook
 
 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου