Σάββατο, 13 Φεβρουαρίου 2016

Oosters-Ortodokse Kerk - Tradisies, Dienste, Die Heilige Geheimenisse (Sakramente), Sinodes


"Ons het nie geweet of ons in die hemel of op aarde is nie."
 
 Burundi, foto van hier af
 
af.wikipedia.org (saam met my eie ingrypings)

Tradisies

Kuns en argitektuur

Kerkgeboue
 
’n Ortodokse kerk binne.
 
Kerkgeboue het baie simboliese betekenisse; die oudste en belangrikste is waarskynlik die konsep dat ’n kerk die Ark (van Noag) is waarin die wêreld beskerm word teen die vloed van versoekings; daarom het die meeste Ortodokse kerke ’n reghoekige ontwerp. Nog ’n gewilde vorm, veral vir kerke met groot kore, is dié van ’n kruis. Argitektoniese elemente verskil in vorm en kompleksiteit, met kapelle wat soms om die hoofkerk geplaas word, maar in die algemeen is die simboliese uitleg dieselfde. Alles in ’n Ortodokse kerk het ’n doel en betekenis wat verband hou met God se openbaring aan die mens.
Die kerkgebou word in drie dele verdeel: die kerkportaal, die skip en die heiligdom (ook genoem die altaar). Katkisante en nie-Ortodokse besoekers is tradisioneel gevra om in die portaal te staan. Dit word van die skip geskei deur die "koninklike hek". Aan albei kante van die hek is kersstaanders wat die vuurkolom voorstel wat die Israeliete se pad verlig het met hul uittog uit Egipte. Die skip is die deel waar die grootste deel van die gemeente tydens kerkdienste staan. Mans staan tradisioneel regs en vroue links. Dit word om verskeie redes gedoen: (1) Omdat mans in vorige eeue as die dominante geslag beskou is, word die gelykheid van die geslagte nou beklemtoon deurdat albei ewe ver van die altaar af staan; (2) Die idee om die geslagte te skei kom van die Joodse tradisie in sinagoges; (3) Dit kom ook van die plasing van verskillende geslagte in kore: eenderse sangstemme staan bymekaar om harmonie te skep.
Daar is gewoonlik ’n koorarea aan die kant of agter in die kerk. Daar is ook altyd ’n voorsanger voor in die kerk teenwoordig vir beurtsang en gesange wat deel is van die kerkdiens, wat deur die priester gelei word. Daar is gewoonlik ’n koepel in die plafon met ’n ikoon waarop Christus uitgebeeld word as Heerser van die heelal.
Aan die voorkant, of die oostelike deel van die kerk, is ’n skerm of muur vol ikone (die ikonostase of beeldewand) wat die skip van die heiligdom skei. In die middel van hierdie muur is die "koninklike deure" wat net die priesters mag gebruik. Daar is ook ’n linker- en regterdeur in die ikonostase – die een stel die aartsengel Migael voor en die ander die aartsengel Gabriël. Die priester en altaarknape gebruik dié deure tydens spesifieke dele van die kerkdiens. Net regs van die hoofdeure is daar altyd ’n ikoon van Jesus. Ander ikone op die ikonostase is van die Maagd Maria, Johannes die Doper en die heilige na wie die kerk genoem is.

 Zambia, foto van hier af
 
Voor die ikonostase is die biskopstoel, ’n ereplek waar ’n besoekende biskop of metropoliet dikwels tydens die diens sal sit. Ortodokse priesters wat voor die altaar staan, is altyd na die altaar gedraai (in ’n oostelike rigting) sodat die priester en die gemeente saam tot God in die hemel bid.
Die heiligdom bevat die heilige altaar, wat die plek verteenwoordig waar Jesus in die graf neergelê is en op die derde dag opgestaan het. ’n Kruis staan agter die altaar. Op die altaar is onder andere items wat gebruik word om die brood en wyn vir nagmaal te heilig, ’n ster vir die heiliging van Goddelike geskenke, ’n "antimins" (’n sydoek wat tydens die heiliging van die Goddelike geskenke gebruik word) en relieke van ’n heilige.
’n Spesifieke antimins kan net een keer per dag vir ’n Goddelike liturgie (erediens) gebruik word. ’n Tweede liturgie op ’n spesifieke dag op dieselfde altaartafel vereis die gebruik van ’n tweede antimins, gewoonlik van ’n ander Ortodokse kerk. Dit beteken enige gemeente kan net een Goddelike liturgie per dag hê – dit is ’n teken van die katolisiteit (universaliteit) van die Kerk en dat "private misse" vermy word.

Ikone
 
Ikonostase in die Mariaboodskap-katedraal in die Moskouse Kremlin.
 
Die woord "ikoon" kom van die Griekse woord eikona, wat eenvoudig "beeld" beteken. Die Ortodokse Kerk glo die eerste ikone van Christus en die Maagd Maria is deur die evangelis Lukas geskilder. Ikone is vol simbolisme wat inligting oor die persoon of gebeurtenis uitbeeld. Daarom word hulle dikwels volgens ’n formule geskilder – daar is voorskrifte vir hoe die spesifieke persoon moet lyk, insluitend haarstyl, posisie van die lyf, klere en agtergronddetail. Ikone word dikwels van ander, ouer ikone af gedupliseer. Met die erkenning van ’n nuwe heilige in die Ortodokse Kerk moet ’n nuwe ikoon egter geskep en goedgekeur word.
Die persoonlike en skeppende tradisies van Wes-Europese godsdienskuns is nie voor die 17de eeu in Ortodokse ikone aangetref nie. Toe eers is die Russiese ikoonskilderkuns sterk beïnvloed deur Protestantse en Rooms-Katolieke kunswerke. Daar is deesdae ’n neiging om terug te keer na die meer tradisionele en simboliese ikone.
Vrystaande (driedimensionele) beelde word feitlik nie in die Ortodokse Kerk aangetref nie. Dit is deels vanweë die verwerping van die eertydse Griekse heidense era van afgode-aanbidding, en ook omdat ikone die spirituele aard van die mens moet wys en nie die sensuele aardse liggaam nie.
Die Ortodokse Kerk beskou nie ikone as voorwerpe van aanbidding nie. Die maatstawwe waarvolgens hulle gebruik word, word duidelik uitgestippel in die Tweede Konsilie van Nicea (die 7de ekumeniese konsilie). Die gebruik van ikone word so geregverdig: Voordat God ’n menslike vorm aangeneem het, was enige fisieke uitbeelding onmoontlik en selfs godslasterlik. Daarna was uitbeelding egter wel moontlik. Aangesien Christus God is, is dit geregverdig om in ’n mens se gedagte ’n beeld van die Godmens te hê. Net so is dit by eerbetoon aan ’n ikoon nie die hout of verf wat eerbiedig word nie, maar die idividu wat uitgebeeld word, net soos dit nie die papier is wat ’n mens liefhet as jy die foto van ’n geliefde soen nie.
Ikone word teen die mure van kerke aangebring en bedek soms die hele binnekant van die gebou. Hulle word dikwels deur ’n kers of olielamp verlig. Benewens die praktiese aspek, om die ikoon te verlig in ’n andersins donker kerk, simboliseer kerse en olielampe die Lig van die Wêreld, dus Christus.



Ikonostase

’n Ikonostase of beeldewand is ’n muur vol ikone en godsdienstige skilderye wat die kerk se skip van die heiligdom skei. Dit kan ook na ’n draagbare ikoonstaander verwys wat op enige plek in die kerk geplaas kan word. Die moderne ikonostase het in die 11de eeu uit die Bisantynse skeidingsmuur ontwikkel. Die eerste Russiese plafonhoogte ikonostase is in 1408 deur Andrei Roebljof ontwerp vir die Mariahemelvaart-katedraal in Wladimir.

Kruis 

Ortodokse kruis met drie dwarsbalke.
 
Kruise in die Ortodokse Kerk is dikwels swaar versier en lyk nie altyd dieselfde nie. Een wat algemeen gebruik word, is die kruis met drie dwarsbalke in plaas van die meer gebruiklike een balk.
Die boonste dwarsbalk van hierdie kruis verteenwoordig die teken wat bo Jesus se kop aangebring is. Dit het dikwels die opskrif "INRI" (Latyn) of "INBI" (Antieke Grieks): "Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode". Dit word ook dikwels vervang deur die frase "Die Koning van Saligheid" na aanleiding van Jesus se antwoord aan Pontius Pilatus: "My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie."
Daar is onderaan die kruis ’n derde dwarsbalk. Sommige kenners meen daar was ’n klein houtplatform vir die gekruisigde om op te staan om sy gewig te ondersteun; in Jesus se geval is sy voete langs mekaar aan hierdie platform vasgespyker om sy lyding aan die kruis uit te rek. Getuienis wat hierop sinspeel, kom hoofsaaklik van twee bronne binne die Heilige Tradisie, die Bybel (om die dood te verhaas is die gekruisigde se bene soms gebreek sodat hulle nie sy liggaamsgewig kon ondersteun nie) en ikonografie (alle vroeë uitbeeldings van die kruisiging gebruik hierdie posisie, nie die latere een met sy voete wat met ’n enkele spyker teen die kruis vasgespyker is nie).
Die onderste balk is om twee redes skeef: om Jesus se lyding aan die kruis uit te beeld, en om aan te dui dat die dief aan Jesus se regterkant die regte pad gekies het en die een aan die linkerkant nie.


 Foto van hier af
Dienste

Die dienste van die kerk word elke dag gehou volgens ’n rigiede, maar konstant veranderende jaarlikse rooster (dele van die diens bly dieselfde terwyl ander dele verander na gelang van die dag van die jaar). Dienste kan nie net deur een persoon gehou word nie; daar moet altyd minstens nog ’n persoon soos ’n voorsanger teenwoordig wees. Gewoonlik word die dienste net in die kloosters en katedrale elke dag gehou; in die gemeentes vind dienste gewoonlik net oor naweke en op groot feesdae plaas. Op sekere groot feesdae sal ’n spesiale nagwaak (Agrypnia) gehou word van laat die aand voor die fees tot vroeg die volgende oggend. Dit word dikwels gevolg deur ’n ontbytfees waar die hele gemeente saam eet.
Cquote1.svg Die reis is na die Koninkryk. Dit is waarheen ons gaan – nie simbolies nie, maar werklik. Cquote2.svg
Vader Alexander Schmemann, For the Life of the World
Cquote1.svg Ons het nie geweet of ons in die hemel of op aarde is nie. Cquote2.svg
Ambassadeurs van Kiëf-Roes (10de eeu), toe hulle die kerke van Konstantinopel besoek het voor die kerstening van die Russe
’n Diens in die St. Michaelkatedraal in Izjefsk.
 
Dienste, veral die Goddelike liturgie (erediens), kan net een keer per dag op ’n altaar gehou word (sommige kerke het meer as een altaar om groot gemeentes te huisves). Ook elke priester mag die liturgie net een keer per dag hou. Die liturgiese dag begin met sononder. Die tradisionele daaglikse kringloop van dienste is soos volg:
  • Vesper of aanddiens – (Grieks Hesperinos) sononder, die begin van die liturgiese dag.
  • Kompletorium of aandgebed (Grieks Apodeipnon) – tussen aandete en slaaptyd.
  • Middernagdiens – vind gewoonlik net in kloosters plaas.
  • Vroeë oggenddiens (Grieks Orthros) – eerste diens soggens; begin gewoonlik voor sonsopkoms.
  • Goddelike liturgie – erediens/danksegging/Nagmaal
  • Uurlikse dienste (Eerste, Derde, Sesde en Negende) – word gehou op die spesifieke uur of soms op ander, meer geleë tye. Indien laasgenoemde metode gevolg word, vind die Eerste Uur plaas direk ná die vroeë oggenddiens, die Derde en Sesde net voor die Goddelike liturgie en die Negende net voor die aanddiens.
Die uurlikse dienste bestaan hoofsaaklik uit litanieë, of smeekgebede, waarin God se genade vir die lewendes en die dooies gevra word, voorlesings van die Psalms, gebede en gesange.

Singspraak 

Ortodokse predikers berei die wierook voor vir ’n diens.
 
In die Ortodokse Kerk word feitlik die hele diens gesing. Dienste bestaan deels uit ’n dialoog tussen die priester en die gemeente (wat diksels verteenwoordig word deur ’n voorsanger). Die gebede word gesing of gesingpraat volgens ’n voorgeskrewe musiekvorm. Feitlik niks word in ’n gewone praatstem gedoen nie, behalwe die preek as een gegee word. Musiekinstrumente word nie gewoonlik gebruik nie, want die stem word beskou as die mees perfekte instrument vir lofspraak.
Verskillende style word vir singspraak gebruik, na gelang van die tyd van die jaar, die feesdag, ens. Dit verskil grootliks tussen verskillende kulture. Veral in die VSA gebruik kore verskillende style en word die style gemeng: een gesang sal byvoorbeeld in Grieks wees, die volgende een in Engels, dan in Russies, ens.
Baie Russiese komponiste het kerkmusiek gekomponeer, soos Tsjaikofski en Rachmaninoff; en kerkmusiek het weer hul musiek beïnvloed.

Wierook

As deel van die Joodse erfenis word wierook tydens al die Ortodokse dienste gebruik as offerande (Eks. 30). Die basis van die wierook is tradisioneel die gom van Boswellia thurifera, ook bekend as wierookhars, maar die gom van dennebome word ook soms gebruik. Dit word gewoonlik gemeng met verskeie essensiële blomolies, wat dit ’n soet reuk gee. Wierook verteenwoordig die soet reuk van die gelowiges se gebede wat opstyg voor God (Ps. 141:2, Op. 5:8 en 8:4). Die wierook word gebrand in ’n versierde goue wierookswaaier wat aan drie kettings hang wat die Drie-eenheid verteenwoordig. Die onderste houer verteenwoordig die aarde en die boonste houer die hemel. In die Griekse en Siriese tradisie hang daar 12 klokke aan die kettings wat die 12 dissipels verteenwoordig. Daar is ook 72 skakels wat 72 evangeliste verteenwoordig. Die steenkool verteenwoordig die sondaars en die vuur die Heilige Gees. Die swaaier word deur die priester gebruik (vorentoe en agtertoe geswaai) om eer te betoon aan al vier kante van die altaar, die Goddelike geskenke, die geestelikes, die ikone, die gemeente en die kerk self.


Die Heilige Geheimenisse (Sakramente)

Volgens die Ortodokse Kerk is die doel van ’n Christen se lewe om teose of vergoddeliking te bereik: die mistieke eenwording van die mens en God. Dit kan gesamentlik of individueel plaasvind. Sint Athanasius van Alexandrië het van die Vleeswording geskryf: "Hy (Jesus) het ’n mens geword sodat ons god kan word."
In die Ortodokse Kerk verwys die term "Geheimenis" of "Die Geheimenisse" na die proses van teose. Hoewel God enigiets dadelik en onsigbaar kan doen, gebruik hy weens die mens se beperkinge gewoonlik ’n materiële substansie soos water, olie, brood, wyn, ens. as ’n medium om die mens te bereik. Hoe dié proses werk, kan nie in menslike terme beskryf word nie. Gebed en simboliek help dat die ware betekenis van hierdie Geheimenisse nie vergeet sal word nie.
Dit wat in die Weste meestal sakramente genoem word, word in die Ortodokse Kerk die Heilige Geheimenisse genoem. Terwyl die Rooms-Katolieke Kerk sewe sakramente noem en baie Protestantse kerke twee (doop en Nagmaal), beperk die Ortodokse Kerk hulle nie tot ’n spesifieke getal nie. Soms word wel van die sewe Heilige Geheimenisse gepraat. Die term word egter ook gebruik vir dinge soos tonsuur (die skering van die kruin), die wyding van die heilige water, die vas, aalmoese uitdeel of iets so eenvoudigs soos ’n kers aansteek, gebed, wierook brand of die seën by die ete vra.

’n Kind word gedoop in Odessa in die Oekraïne.
  • Doop – Die doop verander die ou, sondige persoon in ’n nuwe, rein persoon. Die persoon word drie keer heeltemal in die water gedompel in die naam van die Heilige Drie-eenheid. Kinders word gewoonlik kort ná geboorte gedoop, maar mense van ander gelowe wat die Ortodokse geloof aanneem, word groot gedoop. ’n Nuwe naam word aan die persoon gegee indien hulle volwasse is.
 
 
Bunia, foto van hier af

  • Belydenis – Ortodokse Christene wat gesondig het, maar berou het en die reinheid van hul oorspronklike doop wil hernu, bely hul sondes aan God voor ’n spirituele leier wat hulle leiding en raad gee. Ná die belydenis word die gebed van berou aan die persoon voorgelees.
  • Vormsel (konfirmasie) – wanneer ’n gedoopte persoon die Heilige Gees ontvang deur gesalf te word. Dit word gewoonlik direk ná die doop gedoen as deel van dieselfde diens, maar kan ook gebruik word om iemand wat van die Kerk afgedwaal het, terug te ontvang. Soos die doop die persoon se deelname aan die dood en wederopstanding van Jesus is, is konfirmasie ’n persoon se deelname aan die uitstorting van die Heilige Gees met Pinkster. Ná die doop en konfirmasie is iemand ’n volle lid van die Kerk en kan hulle aan die Nagmaal deelneem ongeag hulle ouderdom.
 
 Bunia, foto van hier af
 
  • Kommunie (Nagmaal) – Die Eucharistie vorm die middelpunt van Ortodokse Christenskap. In die praktyk is dit die deelname aan die Liggaam en Bloed van Jesus Christus saam met die res van die gemeente. Daar word geglo die brood en wyn word die werklike Liggaam en Bloed van Jesus deur die toedoen van die Heilige Gees. Nagmaal word aan lidmate bedien nadat hulle voorberei het deur te vas, te bid en te bely. Babas en kinders word van hul doop af na die altaar gedra om aan die Nagmaal deel te neem.
 
 Burundi, foto van hier af
 
  • Vas – Die aantal dae waarop iemand vas, wissel van jaar tot jaar, maar in die algemeen kan ’n Ortodokse Christen verwag om net meer as die helfte van die jaar streng of minder streng te vas. Daar is spirituele, simboliese en selfs praktiese redes om te vas. In die sondeval het die mens obsessief geraak met ’n vleeslike natuur. Deur te vas probeer Ortodokse Christene terugkeer na die verhouding van liefde en gehoorsaamheid aan God deur hulle te weerhou van vleeslike genot en te bid, bely en aalmoese te gee.
  • Aalmoese – Aalmoese is enige middel wat gegee word aan die behoeftiges. Saam met gebed en die vas is dit ’n belangrike deel van die persoonlike spirituele praktyke van Ortodokse Christene. Dit is veral belangrik in vastyd.
 
Tanzania, foto van hier af
 
  • Huwelik – Uit die Oosters-Ortodokse perspektief is die huwelik een van die Heilige Geheimenisse. Die Kerk erken daar is uitsonderlike gevalle waar dit beter vir ’n egpaar is om te skei, maar daar is geen erkenning van burgerlike egskeidings nie. So ’n heilige verbintenis kan nie ontbind word nie, behalwe deur egbreuk of die lang afwesigheid van een van die huweliksmaats.
  • Laaste oliesel (salwing) – ’n Terminaal siek persoon, of enigiemand wat liggaamlike of geestelike heling nodig het, kan met olie gesalf word. Dit word dikwels op feesdae gedoen of op enige tyd dat die geestelike leier dit nodig ag vir die spirituele welsyn van die gemeente.
  • Priesterwyding – Sedert die Kerk gestig is, het die geloof na verskillende plekke versprei en die leier in elke streek het bekend geword as episkopoi (opsieners, die meervoud van episkopos), wat biskop in Afrikaans geword het. Ander ampte is presbyter (ouderling), wat in Afrikaans priester geword het en diakonos (dienaar), wat diaken geword het. Daar is ook baie ander geestelikes met ander titels, soos biskop, aartsbiskop, metropoliet, aartspriester, aartsdiaken, ens. Met die uitsondering van biskoppe, wat selibaat moet bly, kan die kerkleiers trou, mits hulle dit doen voor hul wyding of ordening. Priesters en diakens wie se vrou sterf, mag nie weer trou nie en hulle gaan woon dikwels in kloosters. As ’n kerkleier sterf, mag sy vrou ook nie weer troue nie en hulle word dikwels nonne wanneer hulle kinders volwasse ouderdom bereik.
Sinodes

Die Ortodokse Kerk is ’n gemeenskap van 14 (administratief) outokefale plaaslike kerke, plus die Ortodokse Kerk in Amerika wat net deur ’n paar kerke as outokefaal beskou word. Elke kerk het definitiewe geografiese grense en word beheer deur ’n raad van biskoppe, of ’n sinode, met ’n primaat aan die hoof. Die primaat kan die eretitel patriarg, metropoliet (in die Slawiese tradisie) of aartsbiskop (in die Griekse tradisie) hê. Elke plaaslike kerk bestaan uit konstituerende bisdomme met ’n biskop aan die hoof. Sommige kerke het net ’n sekere mate van onafhanklikheid van hul moederkerk.

Ortodokse kerke in gemeenskap

Hier volg ’n lys van die 14/15 outokefale, administratief selfregerende kerke en die volgorde van hul prioriteit (senioriteit), met hul konstituerende kerke. Die titel van die primaat word in kursief aangegee.

Driekoninge-mis in die Klooster van die Profeet Elia van Santorini in Griekeland.
 
  • Outonome Fins-Ortodokse Kerk (Aartsbiskop van Karelië en die Hele Finland)
  • Outonome Esties-Apostoliese Ortodokse Kerk (Metropoliet van Tallinn en die Hele Estland) [Onafhanklikheid nie erken deur die Kerk van Rusland]
  • Selfregerende Ortodokse Kerk van Kreta (Aartsbiskop van Kreta)
  • Selfregerende Kloostergemeenskap van die Berg Athos
  • Eksargaat van Patmos (Patriargale Eksarg van Patmos)
  • Aartsbisdom van Thyateira en Groot-Brittanje (Aartsbiskop van Thyateira en Groot-Brittanje)
  • Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Italië (Ortodokse Aartsbiskop van Italië en Malta en Eksarg van Suid-Europa)
  • Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Amerika (Aartsbiskop van Amerika)
  • Grieks-Ortodokse Aartsbisdom van Australië (Aartsbiskop van Australië)
  • Eksargaat van die Filippyne (Eksarg van die Filippyne)
  • Patriargale Eksargaat vir Ortodokse Gemeentes van Russiese Tradisie in Wes-Europa (Aartsbiskop van Komana)
  • Grieks-Ortodokse Kerk van Alexandrië (Sy Mees Goddelike Salige die Pous en Patriarg van die Groot Stad Alexandrië, Libië, Pentapolis, Ethiopië, die Hele Egipte en die Hele Afrika, Vader van Vaders, Herder van Herders, Prelaat van Prelate, Dertiende Apostel en Regter van die Ekumene)
  • Grieks-Ortodokse Kerk van Antiogië (Patriarg van Antiogië en die Hele Ooste)
  • Selfregerende Antiogiese Ortodoks-Christelike Aartsbisdom van Noord-Amerika (Aartsbiskop van New York en Metropoliet van die hele Noord-Amerika)
  • Outonome Kerk van Berg Sinai (Aartsbiskop van Choreb, Sinai en Raitha)
  • Outokefale Ortodokse Kerk in Amerika (Aartsbiskop van Washington, Metropoliet van die Hele Amerika en Kanada) [Onafhanklikheid nie erken deur die Ekumeniese Patriargaat]
  • Outonome Japannees-Ortodokse Kerk (Aartsbiskop van Tokio en Metropoliet van die Hele Japan)
  • Outonome Ortodokse Kerk van Sjina (verouderd)
  • Outonome Oekraïns-Ortodokse Kerk (Moskouse Patriargaat) (Metropoliet van Kiëf en die Hele Oekraïne)
  • Selfregerende Moldowies-Ortodokse Kerk (Metropoliet van Chisinau en die Hele Moldowa)
  • Selfregerende Letties-Ortodokse Kerk (Metropoliet van Riga en die hele Letland)
  • Selfregerende Esties-Ortodokse Kerk (Moskouse Patriargaat) (Metropoliet van Tallinn en die Hele Estland) [Onafhanklikheid nie erken deur die Ekumeniese Patriargaat]
  • Selfregerende Russies-Ortodokse Kerk Buite Rusland (Metropoliet van Oos-Amerika en New York, Eerste Aartsbiskop van die Russiese Kerk in die Buiteland)
  • Eksargaat van Belarus (Metropoliet van Minsk en Sloetsk, Patriargale Eksarg van die Hele Belarus)
  • Georgies-Ortodokse en Apostoliese Kerk (Sy Heiligheid en Saligheid Katolikos-patriarg van die Hele Georgië, die Aartsbiskop van Mtskheta-Tbilisi en Metropoliese Biskop van Abchasië en Pitsoenda)
  • Serwies-Ortodokse Kerk (Aartsbiskop van Peć, Metropoliet van Belgrado en Karlovci, Patriarg van die Serwiërs)
  • Outonome Aartsbisdom van Ohrid (Aartsbiskop van Ohrid en Metropoliet van Skopje)
  • Roemeens-Ortodokse Kerk (Aartsbiskop van Boekarest, Metropoliet van Walachië en Patriarg van die Hele Roemenië)
  • Selfregerende Metropolis van Bessarabië [Onafhanklikheid nie erken deur die Kerk van Rusland]
Roemeens-Ortodokse Kerk in die Oos-Karpate.
 
Sommige kerke beskou nie die volgende kerk as outokefaal nie:
  • Ortodokse Kerk in Amerika (Aartsbiskop van Washington, Metropoliet van die Hele Amerika en Kanada) [Onafhanklikheid in 1970 erken deur die moederkerk, die Russies-Ortodokse Kerk. Dit is in volle gemeenskap met al die kanonieke Ortodokse Kerke en word de facto deur almal erken. Die Ekumeniese Patriargaat aanvaar die Kerk, maar betwis die Russies-Ortodokse Kerk se handeling]
 
Sien ook

Oosters-Ortodokse Kerk - Organisasie en leierskap, Geloof, Die Heilige Tradisie en die Bybel
Orthodoxy's Worship: The Sanctification of the Entire World
Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar 
Afrikaans Ortodoks

  

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου