Πέμπτη 6 Αυγούστου 2015

Afrikaans Ortodoks

Die bedehuis en die kapel wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar. Die priester se woonkwartiere is op die foto, regs.

http://afrikaansortodoks.wordpress.com/
 
Welkom by die tuisblad van die eerste Ortodokse Gemeenskap in Suid-Afrika wat tot stand gekom het met die spesifieke doel om ‘n geestelike en kulturele tuiste te help skep vir veral Afrikaanssprekendes wat belangstel in die Ortodoks-Christelike geloof. Die Ortodokse Kerk het ‘n historiese kontinuïteit wat direk na die vroegste Christelike gemeentes terugstrek en ‘n leer wat getrou aan die Skrif, die Apostels, die Kerkvaders en die sewe Ekumeniese Konsilies van die historiese Kerk gebly het. Ons is ‘n gemeente van die Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop en ons biskop is Aartsbiskop Sergios van Kaapstad. Die Aartsbisdom Goeie Hoop is deel van die Ortodokse Patriargaat Alexandrië en die hele Afrika. Ons priester is Vr. Zacharias van Wyk. Ons vier tans op gereelde grondslag die Vesperdiens (die amptelike Aandgebed van die Kerk) en die Liturgie (die Nagmaaldiens) in ons kapel op Robertson, wat gewy is aan die Heilige Maria die Egiptenaar, een van die merkwaardigste vroue van die vroeë Kerk. Iedereen is welkom om in Afrikaans saam met ons te kom aanbid. Padaanduidings vir besoekers verskyn onder die “Kontak”-hofie. Die woord “ortodoks” beteken, terloops, “juiste aanbidding”. Mag u deur hierdie bladsye iets van die onbeperkte skat van die vroeë Kerk ontdek, die Kerk wat, hoewel dit al twee duisend jaar oud is, nog altyd die wonderskone bruid van Christus gebly het en wat nooit oud of oudmodies raak nie. Wat ‘n voorreg dat ons nou ook in Afrikaans deel kan hê aan hierdie Kerk van Christus wat wortel in die leer van Christus soos wat ons dit oor die eeue heen van die Apostels ontvang het.



Vader Zacharias van Wyk, ons priester

Iets meer oor ons priester: Vr. Zacharias van Wyk is in 1946 in Beaufort-Wes gebore, het die grootste gedeelte van sy skoolopleiding by die Hoër Seunskool Cradock ondergaan en ‘n tyd lank as staatsamptenaar gewerk, toe ‘n BA-graad  by Tuks gedoen, met Wysbegeerte en Engels as hoofvakke, was daarna ‘n tydlank onderwyser, toe vertaler by die Parlement  en het in die laat Sewentigerjare met studies as Kliniese Sielkundige begin en sy Meestersgraad by Rhodes  Universiteit  voltooi, waarna hy 20 jaar lank ‘n privaatpraktyk as terapeut in Kaapstad bedryf het. Gebore in ‘n NG-familie, met  heelwat predikantvoorsate, het vr. Zacharias altyd ‘n intense belangstelling in die godsdiens gehad  en het hy uit  diepe oortuiging net na matriek Rooms-Katoliek geword, in ‘n tyd toe die Rooms-Katolieke Kerk deur ‘n  hewige  omwenteling gegaan het na die die Tweede Vatikaanse Konsilie, iets wat hy erg traumaties ervaar het. Later was hy meer as 20 jaar kerkloos, maar met die aanvang van die politieke skommelinge van die middel-tagtigerjare, het hy opnuut grondvrae begin vra, en na ‘n aantal jare van groot belangstelling in en die beoefening van Boedhistiese praktyke, het hy die Christendom herontdek, en kort daarna die Ortodokse Kerk, die ontdekking van sy lewe, wat daarop uitgeloop het dat hy in 1996 Ortodoks geword het. Van vroeg af wou hy hierdie geestelike skat met sy mede-Afrikaansprekendes deel en het toe met vertalings en toonsettings van liturgiese tekste begin. Vandag kan die meeste van die groot feeste, en sekerlik die gewone Sondae van die jaar, volledig in Afrikaans gevier word. En wat ‘n pragtige liturgiese taal het Afrikaans nie geblyk te wees nie!
 
Fr Athanasius400 
Fr. Athanasius Akunda
 
Inleiding tot die Ortodoksie

Vir die meeste Afrikaanssprekendes is die Ortodoksie iets totaal vreemd. Soms word dit selfs verwar met die Ortodokse Jodedom. Vrae wat ‘n mens voortdurend teëkom, is vrae soos die volgende: “Glo julle in Jesus?” “Glo julle in die Drie-eenheid?” “Is julle soos die Katolieke?” “Bid julle deur Maria?” Hopelik sal die inligting wat hieronder volg, bydra tot die bekendstelling van die Ortodokse Christelike geloof aan Afrikaanssprekendes en van die wanopvattings uit die weg ruim wat so baie mense het.
 
Wat is en glo die Ortodokse Kerk? Hierdie artikel probeer ‘n basiese uiteensetting gee van wat die Ortodokse Kerk is. Daar word dikwels gesê dat as ‘n mens wil weet wat die Ortodoksie leer, ‘n mens moet gaan kyk na die Liturgie van die Ortodokse Kerk, want wat die Kerk leer, is wat die Kerk bid. Daarom word die Liturgie van die Heilige Johannes Chrysostomos hier ingesluit. Hierdie Liturgie is die basiese Liturgie van die Ortodokse Kerk en het sy ontstaan gehad in Konstantinopel, waar die Heilige Johannes Chrysostomos in die 4de eeu die aartsbiskop was. Hy het die Liturgie wat destyds in gebruik was ietwat verkort en hierdie verkorte weergawe daarvan het gou die norm geword in die hele Bisantynse wêreld. Vir iemand wat vir die eerste keer met die Liturgie te doen kry, is dit ‘n nogal ingewikkelde en skynbaar rigiede manier van aanbidding. ‘n Uitstekende kommentaar  op die Liturgie deur biskop Paul van die Finse Ortodokse Kerk, is egter ‘n nuttige begeleier deur hierdie kompleksiteite van die Liturgie en is ‘n wonderlike blootlegging van die dieptes van die rituele, gebruike en simbole van die Liturgie. Die Liturgie is die Nagmaaldiens van die Ortodokse Kerk en ter voorbereiding vir die ontvang van die Liggaam en die Bloed van Christus gedurende die Nagmaal, word sekere gebede voorgeskryf. So is daar ook gebede wat voorgeskryf word ter danksegging ná Kommunie. Hierdie pragtige Voorbereidings- en Dankgebede vir Heilige Kommunie  kom meesal uit die eerste vyf eeue van die Kerk se geskiedenis en gee ‘n aanduiding van die Kerk se onveranderde en onwrikbare geloof in die waaragtige teenwoordigheid van Christus onder die gedaantes van Brood en Wyn in die Nagmaal, en die gesindheid van ootmoedigheid en nederigheid waarmee die Kommunie benader moet word. Ook word ‘n aantal Ortodokse Gebede ingesluit. Dit sluit in: oggend- en aandgebede, gebede vir getroudes, gebede vir reisigers, gebede vir sakemense, gebede vir siekes en gebede vir afgestorwenes. Daarbenewens is daar gebede voor en na maaltye. ‘n Kenmerk van Ortodokse kerke is dat hulle vol Ikone is en dat Ortodokse Christene hierdie ikone vereer deur daarvoor te buig en hulle te soen. Ook bewierook die priester die ikone tydens eredienste. Is die verering van ikone nie dalk afgodediens nie? Wat leer die Ortodokse Kerk? In hierdie uittreksel, wat afkomstig is uit ‘n brief aan ‘n katkisant, sit ‘n Ortodokse priester op ‘n besondere wyse uiteen wat die leer van die Kerk in verband met hierdie belangrike onderwerp is.
 
Voorts kan veral drie boeke in Engels aanbeveel word wat ‘n deeglike en grondige uiteensetting van die basiese Ortodokse leer, Tradisie en gebruike weergee:
Timothy Ware (Metropoliet Kallistos), The Orthodox Church, nuwe uitgawe (Penguin Books: Londen, 1993).  Hierdie  besondere uiteensetting van die geloof is ook op die internet beskikbaar, hier.
Biskop Kallistos Ware, The Orthodox Way, hersiene uitgawe (St Vladimir’s Seminary Press: Crestwood, New York, 2002).
Biskop Hilarion Alfeyev, The Mystery of  Faith (Darton, Longman en Todd: Londen, 2002). ‘n Verkorte weergawe is op die internet beskikbaar,  hier.
Argimandriet Meletios Webber, Bread & Water, Wine & Oil: An Orthodox Christian Experience of God (Conciliar Press, 2007).
Daniel B.Clendenin, Eastern Orthodox Christianity – A Western Perspective (Baker Books, 2003) 

Click:


Oosters-Ortodokse Kerk - Organisasie en leierskap, Geloof, Die Heilige Tradisie en die Bybel
How “White” is the Orthodox Church?
African Orthodox Saints
 
St Nicholas of Japan, a multi-ethnic orthodox parish in Johannesburg
Orthodox texts into Afrikaans & Zulu
The Orthodox Church in Uganda, an outgrowth of indigenous self discovery

The Orthodox Church in the Republic of South Africa

Orthodox in Southern Africa
Orthodox in Gauteng
Orthodoxy.faithweb.com
Khanya


The Orthodox Christian Church in Zimbabwe

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου