Σάββατο 22 Ιουλίου 2017

Die Heilige Gregorius Palamas († 1360)


Bedehuis Bethanië - AFRIKAANS ORTODOKS 
Coming Home Orthodoxy 
 
Die gedagtenis vandag van Sint Gregorius Palamas op die Tweede Sondag van die Groot Vastyd is deel van ‘n regstreekse voortsetting van die Sege van die Ortodoksie wat ons verlede week gevier het. Want deur die erkenning van die rol wat Sint Gregorius Palamas in die oorwinning van die ketterye van die veertiende eeu gespeel het, vier ons ‘n hernieude sege van die Ortodoksie oor ‘n groot bedreiding vir die geloof.
Sint Gregorius is in 1296 gebore. Na ‘n aanvanklik sekulêre opvoeding het hy die monnike-lewe op die Berg Athos, wat destyds ‘n florerende sentrum van die Ortodokse kloosterwese was, betree. Hoewel hy bekend is vir sy bydrae tot die teologie van die hesigasme, of stille gebed, was sy bydrae tot die Kerk veel wyer as dit, en het hy die integrasie van die privaatgebed van die monnik met die openbare aanbidding van die Kerk beklemtoon.
Na ongeveer twintig jaar as monnik het Sint Gregorius betrokke geraak by die verdediging van die tradisionele geloof van die Kerk teen ‘n sekere Barlaam wat deur die denke van die westerse Renaissance beïnvloed is. Barlaam het beweer dat ons God nie kan ken nie en dit het ‘n sterk reaksie by Sint Gregorius ontlok, wat aangevoer het dat hoewel God onkenbaar is, Hy Hom wel openbaar en dat Christus, deur die vleeswording, ons ‘n bonatuurlike kennis geskenk het. Bowendien het Sint Gregorius se verdediging van die hesigasme, wat kort daarna wyd deur die hele Kerk aanvaar is, ‘n teologiese fondament voorsien wat die teologiese gronde van die monnike-lewe duideliker gemaak het en dit by die liturgiese lewe van die Kerk geïntegreer het.
In 1347 is Sint Gregorius as aartsbiskop van Thessalonika gewy en was hy bekend vir sy goot pastorale toewyding, en sy preke uit hierdie tyd is merkwaardig wat betref die pastorale eenvoud daarvan en die fokus wat hulle geplaas het op die sentraliteit van Christus.

Vir hulle wat in die duister van die sonde woon, het U in hierdie tyd van onthouding lig gebring, o Christus.. Toon ons daarom die glorieryke dag van u Lyding sodat ons tot U mag roep: Staan op, o God, en ontferm U oor ons.
Uit die Mette vir Gregorius Palama

Uittreksel uit Evangelion. ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 11 Maart 2012.

Sien ook 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου