Πέμπτη, 3 Μαρτίου 2016

Oosters-Ortodokse Kerk - Wysheid uit die Nuwe Testament


Bedehuis Bethanië

 
Die Verlore Seun

 
Ons gaan vandag voort met ons voorbereiding vir die Groot Vastyd deur die gelykenis van die Verlore Seun te hoor. Deur hierdie gelykenis aan ons voor te hou waar ons hierdie tyd van bekering ingaan, herinner die Kerk ons aan waaroor bekering eintlik gaan, naamlik ons terugkeer na die liefdevolle God van Wie ons afgedwaal het.




In hierdie bekende gelykenis beskryf Jesus hoe ‘n man sy erfdeel geneem het en dit deurgebring het deur na ‘n verafgeleë land te reis en brandarm te raak as gevolg van sy losbandige leefwyse. Hy het uiteindelik tot sy sinne gekom en besef dat hy beter daaraan toe sou wees om na sy vader terug te keer en en te vra om as huurling in diens geneem te word, maar sy vader, toe hy hom sien kom, het hom as ‘n seun verwelkom en nie geaarsel om ‘n feesmaal vir hom te reël nie.

Die gelykenis van die Verlore Seun is ons eie verhaal, en Jesus vertel dit om vir ons aan te toon wat bekering beteken. Die kern van die verhaal is die verhouding tussen die vader en sy eiesinnige seun, en in dié verhouding sien ons ons eie verhouding met God. Hy is ‘n liefdevolle Vader wat daarna verlang dat ons na Hom terugkeer. Hy is nie ‘n streng regter wat opweeg wat ons gedoen het nie, maar eerder ‘n Vader wat nie ophou verlang dat ons na Hom sal terugkeer nie.

Deur God te verwerp en van Hom af weg te dwaal, het ons in sonde vasgeval. Sonde is nie net die oortreding van die gebooie nie, maar die vernietiging van ons verhouding met God. En bekering is dan ons terugkeer na God, ons liefdevolle Vader wat daarna verlang om ons terug te verwelkom.

Ek het die rykdom verkwis wat die Vader my geskenk het, en in my ongeluk my voedsel gesoek by die verstandlose dier. Ja, sonder om versadig te word, het ek verlang na die kos van die varke. Maar nou het ek teruggekeer na die barmhartige Vader en roep in trane tot Hom: “Neem my aan soos een van u huurlinge, nou dat ek voor u liefde vir die mens, neerval en verlos my.


Uit die Vespers vir die Sondag van die Verlore Seun.

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 28 Februarie 2016


***** 

Die Tollenaar en die Fariseër

 
Vandag dui die begin van die Triodion aan terwyl ons ‘n tyd van voorbereiding vir die Groot Vastyd begin. En vandag se Evangelielesing roep ons op tot nadenke oor ons ware situasie voor God, en die soort bekering wat God in die tyd wat kom van ons verlang.


 

In hierdie gelykenis van die Tollenaar en die Fariseër gee Jesus Christus ons twee baie verskillende reaksies op God. Die Fariseër het homself ‘n regverdige man gereken. Hy dank God daarvoor en wys daarop dat hy nie soos ander sondaars is nie, veral nie soos die Tollenaar, in wie se teenwoordigheid hy gebid het nie. In teenstelling hiermee het die Tollenaar dit nie eens gewaag om sy oë hemelwaarts te wend nie, maar kon hy net oor en oor sê: “O God, ontferm U oor my sondaar.” En Jesus sê dan: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”

Die Fariseër was in baie opsigte ‘n regverdige man en moet geprys word daarvoor dat hy God die eer vir sy goeie dade gee. Die dinge wat hy doen is goed. Maar in sy selfversekerdheid is hy blind vir sy eie sondes en sy eie gebrek aan ‘n besef dat hy self bekering nodig het, en sien hy homself in plaas daarvan as iemand wat reeds die eindpunt en doel bereik het. Wanneer hy hom met ander vergelyk, sien ons ook sy trots. Hy kort die nederigheid van die Tollenaar wat volkome bewus was van sy eie sonde, en wat nie na ander gekyk het nie, maar hom volkome aan die barmhartigheid van God oorgegee het.

Ons is baie gou om mense wat ons as Fariseërs beskou, te oordeel, en tog het ons almal iets van die Fariseër in ons. Ons verkies om op ons sterkpunte te fokus, en op die swakhede van ander te wys. En tog wys Christus ons daarop dat ons ons net deur in ons eie harte af te daal en te erken wie ons werklik voor God is, kan werp op sy ontferming en sy vergifnis kan ontvang.

Broeders, laat ons nie bid soos die Fariseër nie, want wie homself verhef, sal verneder word. Maar laat ons ons voor God verneder, en soos die vastende Tollenaar roep: O God, ontferm U oor ons sondaars.

Uit die Vespers vir die Sondag van die Tollenaar en die Fariseër.

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 21 Februarie 2016



*****

Wees my barmhartig, Here!

Vandag is die laaste Sondag voor die begin van die Triodion, en die liturgiese tyd wat ons voorberei vir die Groot Vastyd. En om ons vir hierdie tyd van bekering voor te berei, gee die Kerk ons die verhaal van Christus se ontmoeting met die Kananése vrou.



Hierdie Evangelielesing kan vir ons nogal skokkend voorkom. Toe die Kananése vrou Jesus smeek om haar dogter te genees van besetenheid deur ‘n duiwel, het Hy amper kort-af geantwoord en volgehou dat Hy net na die Jode gestuur is en nie na die Kananése, wat die Jode verag het, nie. Tog het die vrou volhard en op die ou end het Jesus nie net haar kind genees nie, maar ook haar groot geloof geprys.

Die Heilige Johannes Chrysostomos sê vir ons dat Jesus Christus geweet het hoe hierdie vrou sou reageer, en dat hy stuikelblokke in haar pad geplaas het ten einde haar te toets. Sy het nie net volhard nie, maar dit ook met groot nederigheid gedoen.

Terwyl ons ons vir die Groot Vastyd begin voorberei, word ons weereens daaraan herinner dat wat God van ons wil hê, ‘n nederige hart is. Nederigheid is ‘n groot misterie. Ons kan waarskynlik voorbeelde gee van vals nederigheid en die soort skynheiligheid wat mense ‘n afkeer in die Christen-geloof gee. Tog is ware nederigheid geweldig magtig en die Woestynvaders leer ons dat dit die een deug is wat die demone nie kan naboots nie.

Die nederigheid wat hierdie vrou getoon het, het haar nie ‘n vloerlap gemaak wat maar net alles aanvaar wat aan haar gesê is nie. Sy het groot moed aan die dag gelê deur met haar versoek te volhard en was vasbeslote om, ten spyte van alle stuikelblokke, vol te hou. Dit is trouens juis in die erkenning van hierdie behoefte dat sy bereid was om haarself as die minste van almal te sien, en dit is hierin dat ons haar ware grootheid sien.

Hy wat die liefde bereik, kan nie misluk nie.

Die Heilige Makarios die Grote.

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 14 Februarie 2013 


 
*****

Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

Mt. 25:14-30

Vandag hoor ons Jesus Christus se leer oor die gelykenis van die talente uit die Evangelie volgens Matthéüs. Jesus vertel van ‘n man wat op reis gegaan het. Voor sy vertrek het hy sy eiendom aan sy diensknegte toevertrou. Een van hulle het vyf talente ontvang en het dit gebruik om nog vyf te verdien. ‘n Ander een het twee talente ontvang en dit gebruik om nog twee te verdien. Die derde een, aan wie een talent toevertrou is, was egter te bang om iets daarmee te maak en het dit toe maar begrawe. Met die terugkeer van die meester is hy berispe dat hy ‘n geleentheid verspil het.




Die Vaders van die Kerk bygryp die man wat die talente uitdeel as Jesus Christus. Hy het verskillende gawes vir ons almal, en Hy vra ons om hierdie gawes op ‘n gepaste manier te gebruik ten einde sy werk uit te voer.

Baie van ons vind dit moeilik om die gawes wat ons ontvang het te gebruik omdat ons onsself as nutteloos beskou. Ons kan miskien wonder oor wat ons dan nou het om God te bied. Tog leer die Kerk dat ons almal van onskatbare waarde in die oë van God is, want ons is na sy beeld geskep en Hy het ons van die begin af liefgehad. Daarbenewens roep Hy elkeen van ons by die naam, en dit is ons taak as Christene om te antwoord op wat Hy ons vra om met ons lewens te doen.

Dikwels as mense nie die gawes gebruik wat God hulle gegee het nie, is dit as gevolg van vrees. Dit is nie ‘n gebrek aan goeie wil wat hulle daarvan weerhou om op God te reageer nie, maar veelmeer omdat hulle gevangenes van vrees geword het. Ons is miskien geneig om vir hierdie mense jammer te voel en geskok te wees oor hoe streng die gelykenis teenoor hulle is. Ons het almal vrese, maar wanneer ons toelaat dat hulle ons oorheers, neem hulle ons lewens oor, verhoed ons om die mense te wees wat God ons bedoel het om te wees, en lei ons op ‘n pad van selfvernietiging. Ons word geroep om ons vrese te konfronteer en, met God se hulp, te oorkom.

Die Here wat die talente uitgedeel het, keer terug om rekenskap te eis, want Hy wat nou geestelike gawes so ryklik skenk, sal by die oordeel ondersoekend vra na wat bereik is; Hy sal in ag neem wat almal ontvang het en dit opweeg teenoor die vermeerdering van sy gawes wat ons terugbring.

Die Heilige Gregorius Dialogos

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 7Februarie 2016


***** 

Ek moet vandag in jou huis bly

Lukas 19:1-10

Vandag hoor ons die Heilige Lukas se vertelling van die bekoorlike en tog uiters prikkelende bekering van Saggéus. As tollenaar word hy deur sy eie mense as ‘n uitgeworpene beskou omdat hy met die Romeinese besetters saamwerk en homself in die proses verryk het. Toe Jesus in Jericho kom, het Saggéus, omdat hy Hom wou sien, en omdat hy klein van persoon was, in ‘n wildevyeboom geklim. Wetend dat hy daar is, het Jesus Christus tot hom geroep om af te klim en gesê dat Hy na sy huis toe kom. Saggéus het met vreugde gereageer en Jesus Christus in sy huis verwelkom, en beloof om die helfte van sy eiendom aan die armes te gee en om almal wat hy afgpers het, viervoudig terug te betaal.




Saggéus was duidelik nuuskierig oor Jesus Christus, tog was hy ook ongemaklik. Bewus daarvan dat hy ‘n uitgeworpene is en miskien ook verbouereerd omdat hy so kort van postuur was, het hy in die boom weggekruip vanwaar hy kon sien wat gebeur terwyl hy tog ‘n sekere afstand handhaaf. Ook ons word miskien aangetrek deur ‘n lewe van geloof en is miskien daarvan bewus dat iets in ons lewens kortkom, en tog hou ons terug, bewus van ons eie ontoereikendhede of bang vir wat ander van ons sal dink. Jesus Christus breek egter deur Saggéus se verdedigingsmiddele; Hy spreek hom regstreeks aan en weet presies wat hy nodig het.

Jesus kondig aan dat hy na Saggéus se huis kom. In Bybelse taal beteken dit dat Hy kom om Saggéus se lewe met hom te deel en om in ‘n verhouding met hom te tree. Om Jesus Christus in ons lewens te verwelkom, beteken dat ons Hom leer ken en Hom toelaat om ons te leer ken, ook daardie dele van onsself wat ons liewer nie wil hê Hy moet sien nie. Maar dit is net daardeur dat ons ware genesing en vrede kan vind en die stappe kan doen wat ons moet doen ten einde met God sowel as diegene om ons versoen te raak.

Geseënd is hy wat van die brood van die liefde geëet het, naamlik Jesus. Selfs terwyl hy nog op aarde is, adem Hy die lug van die opstanding in, waarin die regverdiges hulle sal verheug na hulle uit die dode opgestaan het.

Die Heilige Isaak die Siriër

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 31 Januarie 2016 



*****

Wees my barmhartig!

Lukas 18:16-20

Vandag hoor ons die Heilige Lukas se vertelling van die genesing van die blinde bedelaar. Hierdie man het langs die pad gebedel toe Jesus verbykom, en toe hy hoor dat dit Jesus was, het hy uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, wees my barmhartig!” Hy het dit aangehou roep totdat Jesus gaan staan het en hom gevra het wat hy wou hê. Toe hy sê: “Here, dat ek kan sien” het Jesus geantwoord deur te sê: “Sien; jou geloof het jou gered.”




Baie van ons weet wat dit beteken om te bid vir goed wat ons dink ons (en ander) desperaat wil hê of nodig het. Tog lyk dramatiese insidente van genesing soos dié baie ver van ons af. Ja, God genees mense op dramatiese wyse, maar dit is nie altyd ons ervaring nie. Wat moet ons maak van genesingsverhale soos hierdie een?

Ons moet in die eerste plek verstaan dat gebed nie soseer ‘n kwessie is van vra vir wat ons wil hê, of selfs dink ons nodig het nie, maar ‘n oorgawe van onsself aan die barmhartigheid van God. God verhoor ons gebede, maar nie altyd op maniere wat ons verwag of wil hê nie, want God weet baie beter as wat ons self kan verstaan wat ons nodig het.

In die tweede plek is gebed nie bloot ‘n eenmalige versoek wat beantwoord of nie verhoor word nie, maar is die uitdrukking van ons hele lewe en ons diepste verlanges. Ons kan nie vir goed bid en voortgaan asof God nie by ons lewens betrokke is nie. Om tot God uit te roep: “Wees my barmhartig!”, is nie iets wat ons maar net met ons lippe sê nie, maar moet die uitdrukking word van ons bewustheid van ons diepe behoefte aan God terwyl ons in die geloof groei. Hoe meer ons onsself werklik leer ken, hoe nederiger word ons en hoe suiwerder word ons gebed.

Die woord was vir hom wat blind was lig, want dit was die woord van Hom wat die Ware Lig is.

Die Heilige Ccyrillus van Alexandrië

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 24 Januarie 2016


*****

Dankbaarheid

Die Kerk keer vandag weer terug na die Evangelielesings volgens Lukas, en ons hoor sy vertelling van hoe Jesus Christus tien melaatses genees het. Tien manne wat aan melaatsheid ly, het Hom kom vra om Hom oor hulle te ontferm, en Hy het hulle aangesê om hulle te gaan toon aan die priesters sodat hul genesing bevestig kon word. Terwyl hulle op pad was, het hulle gevind dat hulle genees is. By die besef daarvan, het een van die melaatses, ‘n Samaritaan, na Jesus teruggegaan en Hom bedank. Die ander nege het net op die pad voortgegaan, wat Jesus laat opmerk het dat net een teruggekom het om dankie te sê.


 

Hierdie voorval herinner ons dat ons al te maklik God se gawes as vanselfsprekend aanvaar, en vergeet om Hom daarvoor te bedank. Om ‘n gees van dankbaarheid te kweek, is van wesenlike belang in ons Christelike lewens, want ons moet dikwels bewus word van alles wat God vir ons doen. Ons kan miskien wonder hoe die nege melaatses kon vergeet het om dankie te sê vir hul genesing, en tog, ons nie dankbaar is vir alles wat God in ons alledaagse lewens vir ons doen nie, loop ons die risiko dat ons ook blind sal wees vir sy meer buitengewone handelinge.

Mense dink dikwels aan gebed as hoofsaaklik die vra van goed van God. Terwyl ons sekerlik ons behoeftes en die behoeftes van die wêreld in gebed na God moet bring, begin egte gebed met die erkenning van Wie God is, met die loof van Hom vir Wie Hy is, en die danksegging aan Hom vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Want gebed is uiteindelik die kweek van ‘n verhouding met God, waar ons leer om nie net op Hom staat te maak vir al ons behoeftes nie, maar ook te besef hoe Hy hierdie behoeftes bevredig en Hom daarvoor dank.

Watter woorde kan God se gawes toereikend beskryf? Hulle is so talryk dat ‘n mens dit nie kan tel nie. Hulle is so groot dat, in antwoord daarop, enige een daarvan ons absolute dankbaarheid vra.

Die Heilige Basilius die Grote

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 17 Januarie 2016 



*****

Die Lig van die wêreld

Vandag, op die Sondag na Teofanie, hoor ons hoe Jesus Christus, na sy doop in die Jordaanrivier en die gevangenissetting van die Heilige Johannes die Doper, na Galiléa teruggegaan het waar Hy begin preek het. Die Heilige Matthéüs sê vir ons dat dit so was dat die woorde van Jesaja vervul sou word wat verkondig het dat die volk wat in die duisternis gesit het ‘n groot lig gesien het.




Die fees van Teofanie is ‘n fees van die Lig. Deur met sy Geboorte onder ons te kom woon, het die lig van Jesus Christus die duisternis van ons wêreld binnegekom, en met sy Doop in die Jordaan is hierdie lig openlik aan die hele wêreld openbaar. Nou sien ons hoe hierdie lig begin versprei, eers in Galiléa, maar uiteindelik sal die Lig van Christus, bietjie vir bietjie, deur die hele wêreld versprei.

Soos die Heilige Johannes die Doper, het Jesus mense tot bekering geroep, “want die Koninkryk van die hemele het naby gekom.” Die Heilige Johannes het gepreek dat die Koninkryk aan’t kom was, maar nou, met die koms van Christus, is die Koninkryk “naby”, want die teenwoordigheid van Jesus Christus maak die Koninkryk teenwoordig. Maar dit is net die begin en moet voortgaan om te groei totdat dit in die volheid daarvan bestaan.

Ons betree die Koninkryk van die Hemel deur bekering, ‘n bekering wat nie ‘n eenmalige gebeurtenis is nie, maar ‘n proses waarmee ons lewenslank moet volhou. Maar dit beteken nie dat daar ‘n lys van goed is wat ons moet doen of nie doen nie. Dit is veelmeer ‘n ontmoeting met die Lig van Christus. Die Kerk praat oor die doop as verheldering of verligting. Dit is die Lig van Christus wat ons in staat stel om werklik te kan sien – en om in ons geloof te groei, beteken dat ons al hoe meer deursigtig word vir hierdie Lig. Deur voortgesette reiniging en verligting word ons geroep om draers van Christus se Lig te word sodat ook ander sy Lig in ons kan sien.

Die “groot lig” is Christus ons Here en die helderheid van die prediking van die Evangelie.

Die Heilige Cyrillus van Alexandrië

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 10 

 
*****


‘n Nuwe Begin

 
 

Markus 1:1-8

In vandag se Evangelielesing hoor ons die inleidende woorde tot die Heilige Markus se Evangelie. Anders as die Heilige Matthéüs en die Heilige Lukas begin die Heilige Markus se Evangelie nie met die geboorte van Christus nie, maar begin dit in die woestyn, waar die Heilige Johannes die Doper mense tot bekering roep. Hy vereenselwig hom duidelik met die Ou Testamentiese profete wat op mense ‘n beroep gedoen het om hulle te bekeer van hulle sondes, om om te draai, en ‘n nuwe lewe te begin, en die Kerk beskou hom as die grootste onder die profete. Hy vorm trouens ‘n uiters belangrike skakel tussen die Ou en die Nuwe Testament.

Die oproep tot bekering lê aan die hart van ons Christelike geloof, tog kan die betekenis daarvan soms vir ons moeilik wees om te begryp. Baie mense beskou bekering as ‘n blote sleg voel oor jou sondes – asof God dit sou verwag dat ons sleg voel! Ander sien dit as ‘n groot poging om die guns van God op die een of ander manier te probeer wen. Terwyl bekering beslis ‘n element van berou vir ons sonders inhou, en ons wel ‘n poging moet aanwend om te verander, is die bekering waarvan die Evangelie praat, veel dieper as dit. Ware bekering beteken ‘n ontmoeting met God wat ons lewens ‘n omwenteling laat ondergaan wat op die ou end eintlik ‘n diep, vreugdevolle ervaring is.

Ons is almal verskillend en hierdie ontmoeting met God kan dus verskeie vorms aanneem, maar die Heilige Johannes stel dit duidelik dat bekering beteken om jou tot Christus te wend, en hy was juis besig om sy dissipels voor te berei vir hoe om die Christus te herken toe Hy verskyn. Ons verander nie ons lewens deur vir onsself te vertel hoe sleg ons is nie, of deur op ons eie beter te probeer wees nie. Ons begin eerder verander deur die Een te ontmoet “wat sterker is as ek,” in die besef dat Hy ons liefhet, en deur te leer om onsself te sien soos wat Hy ons sien, en deur Hom in ons daaglikse lewens te volg, altyd gevoed deur sy Liggaam, naamlik die Kerk. 


Abba Pimen het met betrekking to abba Pior gesê dat hy elke dag ‘n nuwe begin gemaak het.

Uit die Gesegdes van die Woestynvaders

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 3 Januarie 2015
 

*****
 

Die Lig skyn in die duisternis
 

 

Matthéüs 2:13-23

Op Kersdag het ons die koms gevier van Christus wat soos ‘n Lig in ons wêreld skyn. Die Heilige Johannes sê vir ons in sy Evangelie dat Jesus Christus die ware Lig is wat elke mens verlig. (1:9) Hierdie viering van lig duur voort tot die Groot Fees van Teofanie op 6 Januarie, wanneer ons Christus se doop in die Jordaan vier, die fees wat ook as ‘n fees van lig genoem word.

Vandag se Evangelielesing herinner ons egter aan minder aangename gebeure rondom die geboorte van Christus. Na die vier van die vreugdevolle tyding van sy geboorte, het die Kerk se Liturgie ons trouens herinner aan die werklikheid van lyding in ons wêreld. Vrydag het ons die Heilige Stéfanus gedenk, die eerste martelaar wie se dood aangeteken is in die Handelinge van die Apostels (6-7) Gister het ons die twintig duisend martelare van Nikomedië gedenk wat geweier het om afgode te aanbid. En vandag gedenk ons die heilige kinders wat deur Herodes gedood is in sy poging om die pasgebore Christus te dood.

Terwyl ons die vreugde van Kersfees vier, word ons hierdie sobere herinnering gegee dat Jesus Christus van die begin van sy lewe op aarde verwerp is. Sy geboorte het vreugde vir baie gebring, maar die ware Lig wat in die wêreld geskyn het, het ook teenstand meegebring, want daar is diegene wat die donker bo die Lig verkies. Daar is niks sentimenteel omtrent die boodskap van Kersfees nie, want Christus se geboorte het ‘n reeks gebeure aan die gang gesit wat uiteindelik deur sy dood en opstanding sal lei tot sy groot oorwinning oor die magte van die duisternis. Die Lig skyn steeds in die duisternis en die duisternis sal dit nie oorweldig nie.

Die waarheid het gekom! God word geopenbaar! Hy is gebore uit die Maagd en verlig hulle wat in die duisternis verkeer, vir die verlossing van die wêreld.

Uit die Vespers vir die Fees van Heilige Onskuldiges

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof 27 Desember 2015
 
Filed under Afrikaans-Ortodoks, Die Bybel, Liturgiese jaar, Ortodokse Kerk


Sien ook

Die Ortodoksie
Holy Bible (tag) 

 
Tuis
Skakels
CD’s
Die Ortodoksie
Bedehuis
Kontak
Dienste
Leesstof
Nuus
Musiek
Resepte vir die Vastyd

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου