Δευτέρα, 26 Δεκεμβρίου 2016

Hy het die hemele neergebuig en neergedaal


Afrikaans Ortodoks

NativityVandag vier ons die Lig van Christus wat oor ons wêreld geskyn het. In die Geloofsbelydenis bely ons ons geloof in Jesus Christus wat “ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemele, vlees geword het uit die Heilige Gees en die Maagd Maria en mens geword het.”
Die kern van ons geloof is dat ons glo dat Jesus Christus ons menslike natuur aangeneem het ten einde dit te genees. As mense is ons na die Beeld van God geskep, maar die koms van die sonde in die wêreld het die Beeld van God verwronge en donker geword. Ons het die vermoë om onsself te red verloor.
Vanweë Sy groot liefde vir ons, kon God ons nie maar net in so ‘n toestand laat nie. In plaas daarvan het Hy, deur die Vleeswording, die wesenlike dieptes van ons menslike werklikheid betree deur soos ons te word in alles, behalwe die sonde.
Die Geboorte staan nie op sigself nie, maar is verbind met die vervulling daarvan in die oorwinning van Christus se dood en Opstanding. Verder moet ons ook ons deel doen deur te reageer op Sy liefde. In die Vleeswording het Hy die pad vir ons oopgemaak deur een van ons te word sodat ons aan Sy goddelike lewe deel mag kry. Want soos verskeie Vaders dit stel: “Jesus Christus het mens geword sodat die mens God kan word.”

Toe Hy sien dat hy wat sy beeld en gelykenis dra deur oortreding geval het, het Jesus die hemele neergebuig en neergedaal en Sy woning in ‘n maagdelike skoot geneem, sonder om verandering te ondergaan, en daardeur die gevalle Adam weer nuut gemaak wat roep: Eer aan u Godverskyning, my Heiland en my God!
Vierde Gesang van die Litie van die Geboorte

Dit is Hy wat Sy volk van hul sondes sal verlos 

Afrikaans Ortodoks
Mattéüs 1:1-25

christ-tree-of-lifeOp die Sondag voor Kersfees, vestig die Kerk weereens ons aandag op die manne en vroue wat in die ware God geglo het en die weg berei het vir die koms van sy Seun. Vandag se Evangelielesing kom uit die Heilige Matthéüs se beskrywing van die geslagsregister van Jesus Christus en trek sy menslike voorsate deur tot by die patriarg Abraham.
Hierdie Evangelielesing klink vir ons miskien soos die ietwat droë samestelling van name, maar daar is belangrike redes waarom die Heilige Matthéüs sy Evangelie daarmee begin, en waarom die Kerk dit net voor Kersfees lees.
Ons moet eerstens daaraan herinner word dat Jesus Christus waarlik mens was, iets wooroor party van die vroegste ketters getwyfel het. Hy was nie maar net die een of ander goddelike wese wat op die aarde gewoon het nie, maar ‘n mens in Wie al die volheid van Godheid liggaamlik gewoon het. (Kol. 2:9)
Tweedens moet ons daaraan herinner word dat Christus in ‘n konkrete menslike geskiedenis gebore is. Hy is die vervulling van die belofte wat gemaak is aan Abraham en Dawid; Hy is die vervulling van al die verwagtinge van die volk Israel.
Derdens moet ons onthou dat Jesus Christus die ganse menslike geskiedenis op Hom neem, die slegte sowel as die goeie. Dit is nie net die gelowiges wat by die lys van Christus se voorsate ingesluit is nie; dit sluit ook moordenaars, egbrekers, sondaars en heidene in. Soos alle menslike geskiedenis, is die geskiedenis van die volk Israel nogal “smerig”. Tog neem Christus die volheid van hierdie geskiedenis op Hom; Hy tree daarin ten einde dit van binne te omvorm.

Toe Hy sien dat hy wat na sy beeld en gelykenis was deur oortreding weggeval het, het Jesus die hemele neergebuig en neergedaal en, sonder verandering,  sy woning in ‘n maagdelike skoot geneem, sodat Hy daarin die gevalle Adam kon herskep terwyl dié uitroep: Eer aan u Self-openbaring, my Redder en my God,!”
Uit die vierede Litievers vir  Kersfees.

Uittreksel uit Evangelion, ‘n Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 18 Desember 2016



Kersfees 2016 in Pointe-Noire (foto van hier)
 
Sien ook
 
Artikels in ons blog oor Kersfees
Oosters-Ortodokse Kerk 
Ortodokse geestelike erfenis 
Ortodokse Christene in Afrika
The Orthodox Church in the Republic of South Africa 
Afrikaners en die transendente: Waarom ek die Ortodoksie gekies het

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου