Τετάρτη 17 Ιουλίου 2019

Nuwe Opname van die Goddelike Liturgie




‘n Nuwe opname van die Ortodokse Liturgie, getoonset met hoofsaaklik die bekende Psalmmelodieë van Goudimel, sal binnekort beskikbaar wees. Hieronder is die motivering vir hierdie opname soos wat dit voorlopig op die binneblad van die opname gaan verskyn:

Waarom hierdie toonsetting?

My inspirasie om die Ortodokse Liturgie te toonset met die Psalm-melodieë van veral Goudimel, asook ‘n melodie van die Heilige Notker, is te danke aan my kennismaking op YouTube met André Nieuwkoop in Nederland se zangavonden, waar skares mense, gewoonlik meer as ‘n duisend, byeenkom, om die Psalms te sing. Ek het hierdie melodieë ontroerend gevind en was getref deur die geestelike diepte daarvan. Ek het dit met ‘n half-Afrikaanse kollega in die VSA gedeel en na hy na heelwat van hierdie Psalms geluister het, was sy opmerking: “Profoundly prayerful genius!” Ek het toe begin kyk na die moontlikheid om van hierdie melodieë te gebruik vir die toonsetting van die Goddelike Liturgie van die Ortodokse Kerk in Afrikaans en was aangenaam verras om te vind dat dit nie net moontlik was nie, maar dat dié musiek ook die geestelike diepte van die Liturgie treffend beliggaam. Tot dusver was ons aangewese op meesal Russiese melodieë, maar nou het ons ‘n musiekskat tot ons beskikking wat gewortel is in en eie is aan die geskiedenis van die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes en wat ewe goed ook die draer van die Ortodoksie in Afrikaans kan wees. Met die gebruik van hierdie melodieë kry die Ortodoksie in Afrikaans myns insiens nou die moontlikheid van ‘n eie unieke stem.
Ek het met Leon Starker oor die moontlikheid gepraat om hierdie toonsetting met sy Oikos-sangers op te neem en hy was van meet af aan baie entoesiasties om dit te doen. Die doel van die opname is tweeledig: Om ‘n voorbeeld te hê vir Afrikaanse Ortodokse Christene van hoe die musiek gesing moet word, en om die skoonheid van die Liturgie met hierdie pragtige melodieë aan Afrikaanse mense in die algemeen bekend te stel, om so moontlik by te dra tot die geestelike en kulturele verryking van ons mense.
Graag wil ek ook my dank uitspreek teenoor ons Aartsbiskop Sergios, Metropoliet van die Aartsbisdom Goeie Hoop, wat sy toestemming en seën vir hierdie projek gegee het.
Mag hierdie opname vir vele van seën en tot stigting wees!

Vader Zacharias van Wyk, presbiter
Kapel van die Heilige Maria die Egiptenaar
“Keurkloof”
Robertson
Ortodokse Aartsbisdom Goeie Hoop
Patriargaat Alexandrië

L.W.: DIE VOLLEDIGE TEKS VAN DIE GODDELIKE LITURGIE, MET DIE TOONSETTINGS, IS IN PDF-FORMAAT OP HIERDIE SKYF EN KAN OP ‘N REKENAAR AFGELAAI EN UITGEDRUK WORD.

Afrikaans Ortodoks

 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου