Δευτέρα 25 Δεκεμβρίου 2017

"Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid!"


‘n Preek deur Vr. Anthony Coniaris van die Grieks-Ortodokse Kerk in die VSA vir die Sondag van die Voorouers, 2017, na aanleiding van die voorgeskrewe Evangelie volgens Lukas ( 14:16-24)


Afrikaans Ortodoks - Kerk van die Heilige Maria die Egiptenaar

Uit Engels vertaal deur Vr. Zacharias van die Bedehuis te Robertson
Die Here het hierdie gelykenis vertel: (Lk. 14:16-24)


 ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi.
En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.
En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog.
En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog.
En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.
En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in.
En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek.

Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.
Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie. 


Die meester van die maaltyd het dubbeld seker gemaak dat die gaste die uitnodiging sou ontvang. Hy het aan elkeen twee uitnodigings gerig: Die eerste was om vir elkeen te laat weet dat hy genooi is; die tweede, op die dag van die maaltyd, om aan te kondig dat alles gereed is: “Kom, want alles is nou gereed.”
“Kom!” Die Evangelie is nie soseer ‘n bevel as ‘n aanbod nie; nie soseer ‘n eis as ‘n gawe nie – maar eerder ‘n uitnodiging om te deel in die ongelooflike vreugde van die koninkryk.
“Kom!” God verwag jou! Hy is gereed vir die armes, die verminktes, die blindes, die verlamdes. Hy is gereed vir hulle wat hul lewens op die hoofweë en kronkelpaaie van die lewe deurgebring het. Hy nooi almal uit: “Kom, want alles is nou gereed!”
Soos ‘n herder soek vir die verlore skaap, soos ‘n vrou wat op haar knieë afgaan om ‘n verlore muntstuk te vind, soos ‘n vader wat wag op sy verlore seun om huis toe te kom, so soek, roep en nooi God sonder ophou.
“Kom, want alles is nou gereed!” Kom, julle wat na betekenis soek in die lewe. Kom julle wat honger en dors na die geregtigheid. Kom julle wat struikel onder die las van sonde en skuld. Kom julle wat be-angs en bang is. Kom julle wat treur. Kom julle wat na vrede en vervulling soek. Kom, ‘ Die tafel is gelaai, geniet almal daarvan. Die kalf is gemes, laat niemand honger weggaan nie. ……. Geniet almal die rykdom van sy goedheid. …. Laat niemand sy foute beween nie, want vergifnis het uit die graf uit opgekom. Laat niemand die dood vrees nie, want die dood van die Verlosser het ons vrygemaak.’ (Uit die Paaspreek van die Heilige Johannes Chrysostomos)

Kersfees Liturgie 2017, Bunia, Kongo (DRC), van hier af

Daar is baie wat die Christendom beskou as ‘n soort tiranieke godsdiens. Vir hulle is dit niks anders nie as ‘n reeks gebooie: ‘Dit moet jy doen; dat mag jy nie doen nie.’ Maar die Christendom is nie in die allereerste plek ‘n “behoort” godsdiens nie. Dit is in die allereerste plek ‘n “kom” godsdiens. Die groot aantrekkingskrag van Christus is nie geleë in Sy “jy mag nie”, maar in Sy “kom na My toe”. Kom en word met die Heilige Gees vervul. Kom en word vervul met die krag van God se teenwoordigheid. As ons na Hom toe kom, sal ons sekere dinge doen, nie omdat ons dit “behoort” te doen of “moet” doen nie, maar omdat ons ons daarin verheug om dit te doen as uitdrukking van ons liefde vir Jesus.
In sy kommentaar op hierdie woord “kom”, en veral op die woorde van Jesus ” Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is”, het die Heilige Johannes Chrysostomos hierdie kosbare woorde geskryf: “Sy uitnodiging is ‘n uitnoding van goedertierenheid. Sy goedheid is onbeskryflik. ‘Kom almal na My toe,’ nie net heersers nie, maar ook hul onderdane, nie net die rykes nie, maar ook die armes, nie net die wat vry is nie, maar ook slawe, nie net mans nie, maar ook vroue, nie net die jeug nie, maar ook ouer mense, nie net diegene met gesonde liggame nie, maar ook die verminktes en hulle met geskende ledemate, vir julle almal sê Hy, kom! Want sodanig is die gawes van die Meester; Hy ken geen onderskeid tussen slaaf en vryes nie, ook nie tussen ryk en arm nie, maar alle ongelykhede van hierdie aard word opsygesit. ‘Kom’, sê Hy, ‘almal wat vermoeid en belas is’.

” En kyk ‘n bietjie wie Hy roep! Hulle wat hul krag aangewend het om die wet te oortree, hulle wat deur hul sondes belas is, hulle wat hul hoofde nie meer kan oplig nie, hulle wat met skaamte vervul is, hulle wat nie meer hulle gevoelens kan lug nie. En waarom roep Hy hulle? Nie dat hulle rekenskap moet gee nie, en ook nie om te oordeel nie. Maar waarom? Om hulle verligting van hul lyding te gee, om hulle swaar las van hulle weg te neem.”
Wanneer Jesus sê: “Kom!” staan Hy nie op die boonste sport van ‘n lang leer in die hemel om vir ons die teken te gee dat ons moet begin klim nie. Want Hy het Self met die leer afgeklim tot op die vlak van ons elmboë. Hy het na ons toe gekom.
” (Hy) Wat ter wille van ons, mense, en ter wille van ons saligheid neergedaal het uit die hemele, vlees geword het deur die Heilige Gees en die Maagd Maria, en mens geword het. (Die Geloofsbelydenis van Nicea). “Sy het haar eersgebore Seun gebaar en Hom toegedraai in doeke en Hom in die krip neergelê.” Hy het gekom, gebore in ‘n stal. Hy het gekom en aan die kruis gesterf. Hy het gekom om vir ons die maaltyd van verlossing vir ons voor te berei. En nou – vandag – stuur hy sy diensknegte om ons uit te nooi: “Kom, want alles is nou gereed.”
In plaas daarvan om dit te aanvaar, is hierdie uitnodiging verwerp. “Ek het ‘n stuk grond gekoop…..   Ek het vyf spanne osse gekoop…….. Ek het ‘n vrou getrou ……. Ek kan nie kom nie. Verskoon my tog.” Dit  was die reaksie. Is dit nie vandag dieselfde reaksie nie? Die groot tragedie vir ons is dat ons op die ou end die verkeerde uitnodigings in die lewe aanvaar. Ons loop die feesmal mis, die oorvloedige lewe van Christus, en  aanvaar die mindere en die verbygaande. En Jesus weekla steeds: “O Jerusalem, Jerusalem, ….. hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!”. (Mt. 23 37)

 Zimbabwe, van hier af

“Kom, want alles is nou gereed.” “Maar ek is nie waardig om te kom nie”, maak jy beswaar. “My klere is nie geskik nie. Ek sou nie weet hoe om my in die Meester se paleis te gedra nie.” Dit alles maak geen saak nie. Die uitnodiging is aan almal gerig. Die goeie nuus is dat jy nie volmaak hoef te wees om te kom nie. Kom soos jy is – met al jou sondes en smarte, swakhede en mislukkings, probleme en vrese. Kom na die enigste Een wat jou kan vergewe en genees. Kom na die enigste Een wat jou waardig kan maak.
“Kom, want alles is nou gereed.” Om na Jesus te kom, is ‘n manier van lewe. Dit begin met die doop. Dit behels ‘n daaglikse toewyding, bekering, gehoorsaamheid, aanbidding, Bybel lees, en gereelde Kommunie. Dit behels die daaglikse stap met Jesus. Dit behels nie net “Kom!” nie, maar ook “Gaan!” “Gaan uit in die wêreld en wees my dissipels. Wees dienaars. Wees ligte. Wees sout.”
Nie een van ons sal ooit die wonder van die helder verligte banketsaal, die heerlikheid van die voedsel, en die vreugde om deel te wees van hierdie verstommende gemeenskap ervaar, tensy ons die verskonings agterlaat en dit waag om die uitnodiging te aanvaar nie.
Kom nou na Hom toe en wees verseker dat Hy jou op die laaste dag sal stuur na die grootste “Kom” van alles: ” Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Gebed
Here, ek kom. Geen verskonings. Geen verontskuldigings. Ek weet ek is nie waardig nie. Sonder U het ek gelewe asof ek blind is en verlam. Ek kom honger en dors. Ek kom om gevoed te word. Amen.

Sien ook  
 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου