Σάββατο 8 Απριλίου 2017

Palmsondag - Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here

 
 
Vandag begin die mees gewyde week van die kerklike jaar. Gister het ons die opwekking van Lasarus uit die dode gevier wat Christus se gesag oor die dood toon. Vandag gedenk ons sy seëvierende intog in Jerusalem, waar Hy Homself toon as Koning en Heerser oor alles. Deur Jerusalem binne te gaan op ‘n esel, kom Jesus Christus na ons op ‘n heel nuwe wyse, en stel Hy ‘n reeks gebeurtenisse in werking wat sy Koninkryk ‘n aanvang sal laat neem.
Met dié seëvierende intog in Jerusalem, sien ons Hom geopenbaar nie net as leraar nie, maar as die Koning wat deur sy onderdane verwelkom word. Hy kom egter nie as sommer enige koning nie, maar Hy kom na elkeen van ons persoonlik. Net soos die kinders hom in Jerusalem verwelkom het, word ook ons voor die keuse gestel om Hom in ons harte te verwelkom, om teenoor Hom te reageer met liefde en gehoorsaamheid, en om Hom toe te laat om ons begeertes te herskep volgens sy wil.
Daarbenewens kom ons Koning na ons in deemoed en nederigheid, sittend op ‘n esel. Anders as ‘n aardse koning, kom Hy om ‘n Koninkryk te verkondig wat “nie van hierdie wêreld is nie”, maar wat steeds ‘n uitwerking op die wêreld sal hê. Hy kom om ons die mag van nederigheid en die krag van die liefde te leer, ‘n leerstelling wat volledig tot uitdrukking kom in sy dood aan die Kruis, ‘n dood wat uiteindelik die opperste oorwinning is oor die dood self.
Palmsondag, Burundi (van hier)

Hy wat sit op die troon van die gerubim, sit ter wille van ons op ‘n vul; en met sy koms na sy vrywillige Lyding, hoor Hy vandag hoe die kinders uitroep: “Hosanna!” terwyl die skare antwoord: “O Seun van Dawid, haas U om hulle te red wat U geskep het, geseënde Jesus, daar U vir hierdie doel gekom het, dat ons u heerlikheid mag ken.” 

Uit die Mette vir Palmsondag.

Uittreksel uit Evangelion. ‘n  Bulletin van die Ortodoks-Christelike Geloof, 24 April 2016
 
Sien ook
 
‘n Dienaar en slaaf vir almal
Geestelike skatte van die Groot Vastyd in die Ortodokse Kerk 

Δεν υπάρχουν σχόλια:

Δημοσίευση σχολίου